Hooper lei beleërde Wallabies

Michael Hooper – aangewys as kaptein (Foto: Facebook Michael Hooper)

Daar is baie dinge wat verkeerd loop met en in Australiese rugby, maar die Wallabies se afrigter, Michael Cheika, vat darem raak met van sy besluite.

Nadat die Wallabies se kaptein, Stephen Moore, aangekondig het dat hy dié jaar uit internasionale rugby tree, is daar vinnig opvolgplanne gemaak en Michael Hooper as die nuwe kaptein aangewys.

Hooper (25) het die Wallabies reeds 15 keer in Moore se afwesigheid gelei en ondanks sy jeugdige ouderdom reeds in 68 toetse gespeel.

Hy is Cheika se voorkeurkeuse om die span in 2019 by die Wêreldbekertoernooi in Japan aan te voer.

Cheika was in dieselfde bootjie as die Springbokafrigter, Allister Coetzee, wat verlede jaar voor dieselfde keuse gestaan het nadat Adriaan Strauss aangekondig het dat hy ook aan die einde van die jaar uit internasionale rugby sou tree.

Maar Coetzee het tot ʼn paar dae voor die eerste toets in Junie vanjaar teen die Franse gewag voordat hy Warren Whiteley as die nuwe Bok-kaptein aangewys het. Duane Vermeulen was glo Coetzee se voorkeurkeuse, maar weens sy betrokkenheid vir Toulon in die eindstryd van die Top14-reeks, het Coetzee op Whiteley se knoppie gedruk.

Ook maar goed so, want Vermeulen het ʼn skouerbesering in Frankryk opgedoen en die hele reeks misgeloop.

Almal weet nou dat dit die regte besluit was, almal weet dat Whiteley die regte keuse is om die Bokke in die WB-toernooi te lei.

* Wees maar bly dat die kaptein deesdae die keuse en besluit van die afrigter is, en  nie soos die destydse nasionale kaptein gekies is nie.

Suid-Afrika se eerste toetskaptein, HH Castens, wat die span in 1891 in die eerste toets in Port Elizabeth teen die Britse toerspan aangevoer het, is volgens Our First Springbok Captain, geskryf deur Eddie Grieb en Stuart Farmer, baie omstrede gekies.

Destyds was die gebruik dat die kaptein gekies word deur die tuisunie waar die wedstryd gespeel sou word. HH Castens se pa, Emile Castens, was die president van die Oostelike Provinsie se Rugbyunie en toe word HH Castens, wat vir Westelike Provinsie gespeel het, gekies.

Dit wys jou net, baie min dinge het verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.