Hopelik verloor Bulls nie stoom

Chris Smith begin op losskakel teen Scarlets. (Foto: GB Jordaan)

Jake White het sy span vir môreaand se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd (VRK) teen Scarlets op Loftus Versfeld bekend gemaak.

’n Hele paar van die spelers – onder wie Kurt-Lee Arendse, Madosh Tambwe en Harold Vorster – het Woensdag ook teen die Haaie in ’n Curriebekerwedstryd gespeel.

As dit skoolkinders was, sou die hoof ongetwyfeld ’n paar e-posse van bekommerde ouers ontvang het; die spelers moet net nie uitbrand nie.

“Dit was omtrent ’n besige week. Ons het drie wedstryde binne sewe dae in twee reekse gespeel,” het White gesê.

Doeltreffende spelerbestuur is beslis aan die orde van die dag en die afrigterskorps het darem ’n paar veranderinge aan die span aangebring wat gisteraand die Haaie getem het.

Die Bulls het egter in hul vorige VRK-wedstryd teen Munster so byna die pap op die grond teen Munster laat val – die Pretorianers het ’n voorsprong van 26–3 so amper deur hul vingers laat glip.

Selfs al het Scarlets verlede week teen die Sharks vasgeval, sal die tuisspan vir die volle 80 minute moet rugby speel.

Die wedstryd begin Vrydag om 19:10 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Jacques van Rooyen (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Joe van Zyl, Simphiwe Matanzima, Robert Hunt, Reinhardt Ludwig, Arno Botha, Keagan Johannes, Morné Steyn en Lionel Mapoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.