Hou by die Kerskalkoen, al hou jy nie daarvan nie

superrugby-logo-regteʼn Mens krap nie waar dit nie jeuk nie.

Wanneer jy elke jaar ʼn kalkoen by die Kersete voorsit, hou jy daarby, al bly meer as die helfte daarvan oor.

Dis dalk die hoofrede waarom die Superrugbyreeks afgewater geraak het en die gewildheid van die Sesnasiesreeks al hoe verder toeneem.

Ja, die Sesnasies word tussen ses toetslande binne twee maande afgehandel en net 15 wedstryde word gespeel.

Dis reeds die eerste keer in 1883 (Viernasies) tussen Engeland, Ierland, Skotland en Wallis beslis,  Frankryk het in 1910 (Vyfnasies) die bygekom en Italië (Sesnasies) eers in 2000.

Georgië (wat voor Italië op die wêreldranglys is) maak al hoe sterker aanspraak om Italië te vervang, maar die deur bly toe en daar word gesê dat dit so 10 of 15 jaar kan neem voordat dit sal gebeur.

Daarenteen word die Superreeks tussen 18 spanne oor ʼn tydperk van sewe maande beslis en word daar altesame 142 wedstryde gespeel. Dis baie erger as om elke jaar die Comrades af te lê, dis veel erger as om elke jaar deur die president se openingsrede in die Parlement te worstel.

Toe Transvaal die eerste keer in 1993 in die Super10-reeks gespeel het (en dit gewen het), het almal geweet wie, waar en wanneer.

Dit was ʼn amperse Bokspan teen ʼn amperse All Black-span. Dit was die ware Jakob, krag teen krag.

Maar dit het binne 24 jaar reeds vier gedaanteverwisselings ondergaan. Van ʼn Super10-reeks het dit verander na die Super12,  gevolg deur die Super14, Super15  en nou die Superrugbyreeks.

Dis geen wenresep nie, veral nie as spanne punte vir ʼn loslootjie gekry het, nie elke jaar teen mekaar speel nie, en ʼn span (die Brumbies) met 43 punte geëindig het, maar geplaas is voor die Highlanders (52), die Chiefs (51) en die Crusaders (50) in die Australasiese afdeling.

Dis ʼn mallemeule, en wedstryde vind op Donderdae, Vrydae, Saterdae en Sondae in Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Australië, Japan, Argentinië, Singapoer, Samoa en Fidji plaas.

Kom ons kyk na die toeskouergetalle.

Volgens die BBC toon ʼn ondersoek wat Uefa – die Europese sokkerliggaam –  gedoen het, dat daar gemiddeld 72 000 toeskouers by Sesnasieswedstryde is. Dis meer as die Amerikaanse NFL (68 400), die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2014 (53 592), en die Wêreldebeker-rugbytoernooi in 2015 in Engeland en Wallis (51 621).

Superrugby is slegs 30ste op dié lys met gemiddeld 19 163 toeskouers.

Wees verseker, dié getalle sal vanjaar nog verder daal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Gisteraand daaroor gepraat.
Vir ‘n gesin van 4 kos dit tot R 800 om ‘n Super wedstryd te gaan kyk. As jy iets bitter klein wil eet is dit nog R 200.
Dan word jy afgepers om R 100 vir parkering te betaal of jou kar word gekrap. Ons is nou al by R 1 100. Daarvoor kan jy ‘n klomp vriende oornooi vir ‘n lekker braai en sommer 3 wedstryde kyk.
Unies sal moet vernuwend begin dink. ‘n Vol stadion vuur jou span aan.
Kyk na meer gesinspakette. Laat kinders verniet inkom ( gaan dit ‘n verskil maak as daar in elk geval 30 000 oop sitplekke is?) Pensionarisse teen halfprys ?
Volg ‘n spelpatroon wat toeskouers lok. Sorg self vir ordentlike sekuriteit.
Laat gesinne toe om na wedstryde te kuier en nie te vlug vir boewe nie en laat hulle bowenal uitsien na volgende Saterdag.

Nico K ·

Ek stem saam. Daar is eerstens te veel rugby. Niemand sien meer uit na die groot wedstryd Saterdag nie en praat Sondagoggend na
Kerk nog daaroor nie. As jy hom mis, nou ja daar kom nog baie. En ja ek weet die spanne kry deesdae hul groot geld borge en borge soek TV uitsendings. Soveel te meer kan hul die kaartjies goedkoper maak. Dis sekerlik vir spelers baie lekkerder om voor vol stadions te speel.

Koos ·

Voor ek daai rugby gaan kyk, kyk ek eerder klub rugby. Daar speel die ouens nog omdat hulle wil, hulle dit geniet en bied die rugby baie meer vermaak .

Ek reis juis Saterdag Roodepoort toe vir die Assupol reeks en gaan dus al die Superrugby wedstryde mis en ek is nie eens hartseer daaroor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.