Hou die leisels maar in

Stadig oor die klippe. Toetsrugby is nie ʼn naelloop nie, maar ʼn marathon.

Ja, daar was rede om die vreugdevure aan te steek nadat die Bokke die Franse Saterdag op Loftus in die eerste toets met 37-14 geklop het.

Ja, dit was ʼn baie beter vertoning as die brousel wat verlede seisoen opgedis is. Ja, die Bokke het vier drieë gedruk (een was ʼn strafdrie), en ja, die vleuels het meer van die bal gesien.

Ja, die regte kaptein is gekies, ja, die pak het die Franse poegaai geskrum en ja, die nuwelinge het hul kanse aangegryp en baljaar.

Maar om na net een vertoning  nou al van 2019 se Wêreldbekertoernooi te praat en  om nou al te sê dat die wiel gedraai het, is effens verregaande.

Die Franse was nie die maatstaf waaraan jy gemeet wil word nie (hoewel hulle voor die toets weens die Bokke se geploeter hoër op die wêreldranglys was).

Die Franse se topspelers sal eers in Saterdag se die tweede toets op Kingspark losgelaat word en as die Bokke weer wen (asook die derde toets) is die saadjie geplant.

Kom ons draai maar die horlosie terug sover as na 1967, toe die Bokke die eerste van vier toetse teen die Franse met 26-3 op Kingspark gewen het. Vyf skitter-drieë en die grondslag vir ʼn reeksoorwinning …

Die Bokke het voortgegaan en ook die tweede toets in Bloemfontein met 16-3 gewen (drie drieë).

Die keurders het aan die wenspan geglo, daar was balvaardige en spelskeppende agterspelers soos HO de Villiers, Jannie Engelbrecht, Eben Olivier, Syd Nomis, Corra Dirksen, Piet Visagie en Dawie de Villiers. Daar was ysters in die pak, soos Gys Pitzer, Frik du Preez, Jan Ellis en Piet Greyling.

Maar wat het gebeur in die derde toets op Ellispark? Die Franse het teruggeveg en met 19-14 gewen. Die drieë het begin opdroog en die Bokke kon net twee druk.

Die vierde toets op Nuweland het met 6-elk in ʼn drielose toets gelykop geëindig.

Dus, leer die lesse uit die verlede en onthou hoe lekker dit was, maar moenie te arrogant raak ná een oorwinning nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tommy ·

en in 1967 was daar ook apartheid, gaan dit ook die jaar gebeur? History beteken niks op die sportsveld nie, JA ons het nog baie foute, maar dit lyk beter, laat ons die hoop dra, tipies S’kaners, wen dan se ons weer nee wag, verloor, dan moan ons ook.

Dries ·

Daardie 3de toets was die eerste toets wat ek ooit bygewoon het, ek was toe in graad 1. Camberra se skepskop het die bokke daardie dag gekelder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.