Hou dié twee uit SA dop, waarsku Engelse

Vyf jong spelers beloof om geweldige trefkrag in die 2018-deel van die huidige Engelse Premierliga-seisoen te hê, en twee van hulle het Suid-Afrikaanse bande.

Premiership Rugby (PR) beskou dié vyftal as die keur van die jong talent in die liga wat dié gehalte spelers oplewer waarop Engeland se tweede plek op die wêreldranglys berus.

Ná hul gesukkel om lewe in die Springbok-middelveld te blaas, moet dit seker as ʼn groot verrassing vir Allister Coetzee en sy wyses kom dat die versmaaide Bok-senter Rohan Janse van Rensburg so hoog in dié uitgelese geledere aangeslaan word.

Hy word tweede ná Josh Adams, ʼn vleuel van Worcester Warriors, gelys.

PR sê Janse van Rensburg se impak by Sale is van só ʼn aard dat dit nie sal verras nie as sy huidige korttermynkontrak verleng word.

Dit sal beteken dat hy, met slegs een toets agter sy naam, kragtens die SA Rugbyunie se ondoeltreffende 30-toetsreëling nie daarna weer vir Suid-Afrika sal kan speel nie.

Die webwerf loof sy kragspel en verwys na sy puik drie teen Worcester, en die wyse waarop hy Bath se verdedigingslinie keer op keer gekarnuffel het.

Derde op die lys is die Namibiese kaptein en agsteman, Renaldo Bothma, wat nieteenstaande sy herstel van ʼn gebreekte arm ʼn “monumentale” buiging vir Harlequins in sy dramatiese sege van 20-19 oor Saracens gemaak het.

PR reken Bothma is uit dieselfde staal as die gewese Namibiese kaptein Jacques Burger gegiet. Burger het jare lank vir Saracens in die Premierliga gespeel.

Bothma het Superrugby vir die Sharks en die Bulls gespeel, en het die SA Presidentspan verteenwoordig (wat die destydse Internasionale Rugbyraad se Tbilisi-beker in 2013 gewen het) voordat hy sy lot by Namibië ingewerp het.

Die ander twee spelers op die lys is Ollie Thorley (vierde), ʼn vleuel van Gloucester, en Zach Mercer (vyfde), ʼn 20-jarige agsteman van Bath.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.