Hou die vuiste maar in die laai

Johan Ackermann. (Foto: Facebook Johan Ackermann)

Daar is altyd die een kant van ʼn saak, die ander kant en dan die waarheid.

Johan Ackermann (afrigter van die Gloucester-rugbyklub) en sy seun Ruan (vurige agtsteman) is nou in die spervuur nadat hulle ʼn jong man vroeg Sondagoggend buite ʼn nagklub in Cheltenham glo aangerand het nadat Gloucester Zebre die vorige aand met 69-12 in die Europese Uitdaagbekerreeks geklop het.

Die bakleiery is op video vasgevang, en Gloucester het Dinsdagaand nadat hulle die videomateriaal onder die oë gehad het in ʼn verklaring gesê dat Ackermann-hulle nie die geveg begin het nie en uitgelok is.

Ruan Ackermann (Foto GB Jordaan)

Niemand wil ʼn bakleiery goedpraat nie, en ek is seker dat daar teen die twee Ackermanns opgetree sal word as hulle skuldig is, maar ai, ʼn mens meng mos nie in met ʼn rugbyspan wat ná ʼn wedstryd ʼn paar biere wegslaan nie?

Dit laat ʼn mens onwillekeurig terugdink aan ʼn voorval in 1956 toe ʼn bakleiery tussen twee Springbokke, Salty du Rand en Jan Pickard, die toer na Nieu-Seeland laat ontspoor het.

Du Rand, wat in 1949 sy buiging vir die Bokke gemaak het en die onderkaptein van die Springbokspan was wat die reeks in 1955 teen die Britse Leeus gedeel het, was die groot gunsteling om die span na Nieu-Seeland en Australië aan te voer.

Du Rand was op die laaste dag van die proewe (wat volgens Dok Danie Craven nooit moes plaasgevind het nie, want die span was “reeds gekies”) kaptein van die Moontlikes, wat teen die Waarskynlikes (Pickard se span) verloor het.

Du Rand is dié aand daaroor gekoggel, en beskuldigings het oor en weer gevlieg. Die vet was in die vuur toe Du Rand aan Pickard gesê het dis vreemd vir ʼn Afrikaner om vir die “Engelse” klub Hamiltons in Kaapstad te speel. Die twee het aanmekaargespring en Pickard, wie se bynaam Bull was, se neus is gebreek.

Dok Craven het aan Du Rand opdrag gegee om Pickard om verskoning te vra, maar hulle het die hele toer nie langs dieselfde vuur gesit nie.

Dok Craven en sy medekeurders het ook die fout begaan deur nie vir Du Rand, of Pickard, as kaptein aan te wys nie, maar wel die joviale Basie Viviers, wat voorheen nie toetsrugby gespeel het nie en nie sy plek in die toetsspan verdien het nie.

Daar is destyds ook beweer dat dr. Eben Donges, Pickard se skoonpa en jarelange minister van binnelandse sake, oor die kapteinskap ingegryp het.

Die Bokke het net 21 van hul 29 wedstryde op toer gewen en die reeks teen die All Blacks met 1-3 verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jakkalas ·

Ek het juis iewers gelees dat Du Randt juis in die Bok groep ingespan was om die AB bokser aan die bek te ruk wat die voorspelers so geboks het. Lyk asof hy sy hande kon gebruik en nie net balle vang daarmee nie…lol.

susan ·

Nig net een gentleman in rugby gewees kaptein van die Wêreldbeker Pienaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.