Hou die wekker maar byderhand

Trevor Nyakane – al gestraf vir laat kom (Foto GB Jordaan)

Daar is nie tyd vir laatslapers in rugby nie, nie letterlik óf figuurlik nie.

Dis enige mens se groot vrees om te verslaap … vir daardie belangrike vergadering, om betyds by die lughawe te wees om ʼn vliegtuig te haal… en laat by ʼn oefening uit te kom.

Dit het Patrick Tuipulotu, die 24-jarige slot van die Blues, tot sy groot spyt agtergekom toe hy deur die afrigter, Tana Umaga, uit die span gegooi is wat Woensdag teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het.

Sy groot kans was dus daarmee heen om die All Blackskeurders vir oulaas te oortuig voordat hulle die groep aangewys het vir die komende reeks van drie toetse teen die Leeus.

Hy sal ook nie eendag aan sy kleinkinders kan vertel dat hy in die span was wat die Leeus geklop het nie… ’n Leeu-trui van sy direkte teenstander sal ook nie in sy studeerkamer hang nie, want wanneer die Leeus weer na Nieu-Seeland toer, sal Tuipulotu nie meer speel nie.

Hy is nie die enigste speler wat al laat was by oefeninge nie, en hy is nie die enigste speler teen wie daar al opgetree is nie.

Die Springbokstut Trevor Nyakane is in 2013 deur die destydse Bok-afrigter Heyneke Meyer uit die Bokspan gelaat vir ʼn toer na Argentinië omdat hy verslaap het. Dit was die laaste strooi, want kort voor dit het Nyakane ʼn vlug van die Cheetahs verpas omdat hy laat was, en sy fiksheid was boonop onder verdenking.

Die Ierse haker Jerry Flannery was ʼn paar seisoene gelede ook in die sop omdat hy laat was vir ʼn oefening. Sy verskoning was dat sy hare-afspraak, om sy hare in Auckland te laat sny voor ʼn toets teen die All Blacks, langer geduur het as wat hy voorsien het.

Die Ierse spanbus het op pad oefening toe by die salon gestop, Flannery is deur spanmaats laat haal en vir sy straf moes hy die volgende dag met ʼn plakkaat deur Auckland se strate stap met die woorde daarop: “My hare is belangriker as om betyds te wees.”

Toe Laurie Mains die Lions (en Cats) afgerig het, het hy ook geen tyd vir laatkommers gehad nie. Een van sy spelers was laat vir ʼn oefening en Mains het hom net een kyk gegee.

“Waarvoor trek jy tokse aan? Hou jou hardloopskoene aan en hol,” het Mains gebulder.

Jare gelede het die oud-Noord-Transvaalse vleuel John Knox die voorblaaie van die koerante gehaal nadat die afrigter, oom (brigadier) Buurman van Zyl, hom gestraf het toe hy tydens ʼn opwarmtoer na die Suid-Kaap verslaap het.

Hoofberig… ja, dit was in die dae toe Noord-Transvaal nog oorheers het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre Jacobs ·

Is reg so. Is ook in die 70s deur Thys Lourens die trekpas gegee toe ek laat was vir ‘ n oefensessie. Onthou dit na al die jare goed. My skaamte het my oorweldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.