Hou jou voete plat op die aarde

Rieko en Akira Ioane (YouTube)

Nederigheid is een van die goue drade van enige rugbyspan.

Toe die gewese Springbokafrigter Kitch Christie in 1995 by die mediakonferensie op Ellispark ingestap het pas nadat die Bokke die All Blacks in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi geklop het, was sy eerste woorde: “Nou moet ons nederig bly.”

Christie het geweet waarvan hy praat, want hy was ʼn nederige mens, wat voorheen deur die meule was.

Hy het presies geweet in watter slaggat ʼn mens sou trap wanneer roem by die voordeur instap en nederigheid by die agterdeur uitglip. Dis nie as nie, maar wanneer jy dan van jou troon afval.

Dis ʼn belangrike behoud van Nieu-Seelandse rugby, om altyd jou teenstander te respekteer, om nooit toe te laat dat roem na jou kop toe gaan nie, om altyd jou voete op die grond te hou, en om altyd te onthou waar jy vandaan kom.

Wanneer die stof om die Britse en Ierse Leeus se toer na Nieu-Seeland gaan lê het, sal Alex Edwards sy verhaal oor en oor kan vertel.

Edwards, soos duisende ander ondersteuners, volg die toerspan in sy kampeerwa.

Hy het beplan om die aand voor die wedstryd teen die Blues buite die parkeerterrein van die Ponsonby-rugbyklub in Auckland te slaap, want daar het probleme met sy verblyf opgeduik.

“Aikôna,” het Sandra Ioane, een van die vrywilligers van dié rugbyklub, gesê.

“Ek het ’n opblaasmatras en jy kan ʼn paar aande by ons kom oorbly,” het sy volgens stuff.co.nz aan Edwards gesê.

Tuis het Sandra vir Edwards aan haar man, Ed, voorgestel en later ook aan haar twee skamerige seuns, Rieko en Akira.

Volgens Edwards het hulle bekend gelyk, maar hy kon hulle steeds nie plaas nie.

“Nee, jy het hulle nog nie ontmoet nie, maar jy sal hulle sien wanneer hulle môre-aand speel,” het pa Ed gesê.

Die gloeilampie het steeds nie begin gloei nie, want Edwards het aangeneem dat hulle vir Ponsonby in ʼn voorwedstryd sou speel.

“Nee, hulle speel vir die Blues … teen die Leeus,” het Sandra bygevoeg.

Dit was ʼn groot skok vir Edwards, want hoe kan twee All Blacks, wat nog saam met hul ouers bly en ʼn slaapkamer deel in ʼn beskeie huis in Auckland, so plat op die aarde wees?

En terloops, pa Ed en sy vrou,Sandra, het óók toetsrugby gespeel; Ed vir die All Blacks en Sandra vir die nasionale vrouespan, die Black Ferns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Wonderlike, amper ongelooflike storie! Spreek boekdele oor Nieu-Seeland, die All Blacks en hul ongeëwenaarde wenresep.

In skerp teenstelling hiermee betaal die Aussies vir David Pocock meer as 700 000 Aussie dollar vir sy niksdoen 2017 sabbatsjaar. Dan kla die rugbybase oor ‘n finansiële verknorsing?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.