Houe vat in 2016 gee Northam perspektief

northam-logo-300x210Northam Rhinos, die Limpopo-kampioen en `n deelnemer verlede jaar aan die oop klubs se reeks om die Goue Beker, het houe in 2016 gevat, maar dit was nodig om die klub perspektief te gee.

Só het die ondervoorsitter en afrigter, Flip de Kock, Maandag aan Pale Toe! gesê.

Hy sê die klub het veral geleer dat diepte `n vereiste is om aan dié internasionale toernooi deel te neem.

“Northam was baie keer veel mededingender in die tweede helfte. Behalwe Rustenburg Impala, wat alle spanne voor hom weggevee het, selfs in die eindstryd, dink ek die res van die klubs het goed teen mekaar opgeweeg.

“Die Rhinos het met een punt teen Evergreens verloor, wat vyfde geëindig het. Dit dit wys dat die klub die talent het, maar die geheim lê daarin om dit week ná week vol te hou.”

De Kock glo die klub het meer rugby op `n hoër vlak nodig.

Met mening terug

“Ons het baie geleer uit die reeks om die Goue Beker en sal in 2017 met mening terug wees.

Hy sê daar is baie talent in Limpopo, maar te min wedstryde op `n hoër vlak.

“Ons het verlede jaar in ons liga `n wedstryd gespeel en dan vier weke lank geen wedstryd nie. Dan weer `n wedstryd, dan weer drie weke lank glad nie. Só het die liga aangegaan, en kan `n span nie wedstrydskerpheid opbou of die spelers vertroue in mekaar ontwikkel nie. As `n mens só lank nie speel nie, bly dit moeilik om die manne positief te hou, en kry wedstrydfiksheid eweneens `n reuseknou.”

De Kock sê afstande in Limpopo bemoeilik sake.

“Die 2017-liga is juis aangepas om krag teen krag te meet. Dit beteken dat van ons wedstryde tot amper 500 km ver plaasvind – en dan moet daardie 500 km weer ná die wedstryd huis toe afgele moet word.

“Dis egter nodig om te bewys dat ons die beste in Limpopo kan wees en gewis met ander groot klubs kan meeding.”

Te min spelers

Hy sê `n ander probleem in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Limpopostreek is dat die spelersgetalle dit nie toelaat om in die bond se Carltonliga te speel nie. Al die klubs het nie eers twee spanne nie, en van die groot klubs sukkel selfs met wegwedstryde om `n tweede span saam te stel.

De Kock sê behalwe vir die vertrek van Dieter Marquart (agtsteman), wat `n groot verlies is, is verlede jaar se spelers almal beskikbaar en reeds aan die oefen vir die 2017-seisoen.

“Ons het so `n paar nuwelinge wat by die klub wil aansluit, en `n paar wat reeds aangesluit het.

“Northam sien uit na die nuwe liga-indeling in Limpopo. Al hou dit meer en verder ryery in, gaan ons minstens meer wedstryde en ook weekliks speel.

“Ons het ons doelwitte gestel, en sal alles in die styd werp om dit te bereik,” het De Kock laat weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.