Hougie is ʼn onreg aangedoen

Francois Hougaard. (Foto: GB Jordaan)

Nog ene vir die rugbybegraafplaas. Nog ʼn hoofstuk van ʼn begaafde speler wat afgesluit word sonder dat hy in sy eie land na behore geëer en gewaardeer is.

Noem hulle maar op: Brent Russell, Ruan Pienaar, Pat Lambie … en nou ook Francois Hougaard.

Ja, Frik du Preez (38 toetse) en Naas Botha (28) sou wat wou gegee het om soos Hougaard in 46 toetse vir die Springbokke te gespeel het.

Maar of jy nou van Hougaard hou of nie, hy moes in baie meer toetse gespeel het. Hy is ʼn ekstrovert, praat baie en die tatoeëermerke aan sy arms en bene het baie ondersteuners gegrief.

Maar het dit hom enigsins swakker of beter laat speel?

Die feit bly staan dat hy een van ons mees begaafde spelers is wat nooit deur die net moes geglip het nie.

Watter ander speler (dalk Schalk Brits, nog een van Suid-Afrika se verlore seuns) het ʼn beter aftrap en systap?

Hougaard het ook ongelooflike vaart en sy taktiese skopwerk het met rasse skrede verbeter. Dink net hoe Dok Danie Craven hom as voetballer sou laat ontwikkel het.

Maar nou het hy geskok met sy uittrede uit internasionale rugby.

Op 30-jarige ouderdom?

Ja, hy wil glo op sy studies konsentreer, ʼn MBA-graad behaal, maar het sy kontrak verleng om nog drie jaar vir die Worcester Warriors in Engeland te speel.

Wees maar verseker, as hy nie destyds deur Heyneke Meyer en Allister Coetzee soos ʼn klimtol tussen skrumskakel en vleuel gebruik is nie, as hy nie openlik deur Coetzee (hy was tog ook ʼn vaardige skrumskakel) gekritiseer is oor die klaarblyklike tegniese tekortkominge as skrumskakel nie as Rassie Erasmus (so fluit die voëltjie) nie vir Faf de Klerk, Louis Schreuder, Embrose Papier, Cameron Wright en Nic Groom hoër ag nie, sou Hougaard nie “uitgetree” het nie.

Hougaard, wat in 2007 drie keer vir die Westelike Provinsie gespeel het, maar toe oor die hoof gesien is en na Pretoria verhuis het, is in 2010 in sy eerste toets in die opdrafspan as Speler van die Wedstryd aangewys.

Maar toe word hy ná sewe toetse vanweë sy veelsydigheid na vleuel geskuif.

Dis waar die probleme begin het: skrumskakel, vleuel, skrumskakel, vleuel.

Hy het in 28 toetse skrumskakel gespeel, 17 keer vleuel en is in een toets opgestuur as heelagter.

Is hy ooit daarin geken?

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wesley ·

Groot onreg van almal betrokke, en stem heeltemal saam met die artikel. Dalk moet die spelers ook ophou met hierdie “ek speel waar ek nodig is” houding? Alle posisies is spesialis deesdae van voorry tot heelagter. Tot vaskop en loskop en oopkant tot blindekant is daar n groot verskil. Jy speel tot jou passie en werk om die posisie joune te maak. Spelers moet ook nie net buig nie. Goeie spelers se loopbane word kort geknip deur eksperimentele heen en weer skyf.

Herman ·

Heimlike Eier het met die belaglikheid begin. Wou soveel moontlik van sy manne in die span kry en laat dan eerder ‘n skrumskakel up vleuel speel as wat hy ‘n spesialis vleuel gebruik.

T N ·

Dit is eintlik baie makliker as wat hier bespiegel word __ hy moes nooit naby ‘n Springbokspan gekom het nie !

Beste skrywe ·

Beste skrywe, ek het regtig al begin wonder of dit net ek is wat hierdie talent raaksien. Dit is die grootste verleentheid vir die afrigters betrokke in die skandaal. Hougie, seun vir die 1ste keer werklike erkenning. Die enigste wat kort is Nick Mallet se negatiewe invloed op die besluitnemers, wys jou n komentator en afrigter kan werklike talent maak of breek,

Well done ·

Well done Pieter Kruger, beter, reguit, eerlike skrywe sal jy nerens kry. Jy weet beslis iets van rugby en sou Doc Danie se favourite skrywer gewees het.

bloues ·

Pieter, jy is in die kol. En tog hou die afrigters daarmee aan. Kyk nou na uitstekende slotte wat net goeie flanke is. ONREG!!

Dries Potgieter ·

Goeie punt wat jy maak, Pieter. Net een tegniese foutjie in jou argument. Hougie is beslis nie ‘n ekstrovert nie. Moenie laat die haarstyl in sy jonger dae, die modelwerk in glanstydskrifte, die oordadige aandag van die vroulike geslag en al die tatoeermerke jou flous nie. Hy is inderwaarheid ‘n super introvert. Vra maar enige speler wat saam met hom in Pretoria gespeel het. Hy is ‘n goeie span-man, maar praat min en is eintlik media-sku. Joernaliste het altyd gekla dat jy elke woord uit hom moet trek. Hy hou veral nie daarvan om oor homself te praat nie. Francois Hougaard is ‘n introvert par excellence!

Linda ·

Ek hou van Francois Hougaard met sy tatoes en al. As hy uitdraf, sien mens hom dadelik raak. Hy is en bly n puik rugbyspeler nes ons destydse James Smal !!!!! en natuurlik Ezebeth !!! Hierdie manne laat almal se koppe draai !!!!?

Bloukyker ·

Hougie was in die Bulls span in gesluit deur Frans Ludeke vanwee sy x faktor en super talent. Die Bulle het van 2004-2011 met die geniale Fourie du Preez op skrumskakel gesit. Ludeke het gevoel hulle sluit FH liewer in oo vleuel as om hom uit te laat. Hy was net een van daai talentvolle spelers wat uitstekend vaar hoe hoër die vlak. FH het van die beste driee gedruk op beide 9 en 14 vir die Bulle en was ‘n wedstrydswaaier.

Probleem: tydens die toets in 2014 teen die All Blacks, wat ons danksy FH se wendrie gewen het, het die Bokke ‘n swak eerste toerwedsyryd beleef. FH is die skuld gegee hiervoor. Supersport het selfs ‘n 5 min video gemaak om sy foute uit te wys. FH was daarna nooit weer gekies nie. Sy afrigter, HM, het hom nooit in die publiek beskerm nie. Hougaard se grootste bate was nooit ten volle deur sy Bok afrigters benut nie. Hulle het ook nie geweet hoe om dit verder te ontwikkel nie.

Joe Hall ·

Ja en hy het nog altyd ‘n 5 treë aanloop nodig om die bal vir sy losskakel aan te gee.

rollie ·

‘n Bestendige provinsiale speler, nie juis toetsgehalte nie. Ek sal spelers soos Joost, Fourie, Gregan, Edwards, ens. in die “begaafde” kategorie plaas.

Jeandre Potgieter ·

He is a good person introvert ummmm yes you would have to drag all out of him coming home just a visit this country has lost him gather there is no return besides visits.Tatoes is just a story behind each tatoe great person though .If S.A has no idea what they are losing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.