Hurricanes dring deur, maar is hulle kampioenmateriaal?

Damien Mckenzie (Foto: Twitter)

Nóg ʼn teleurstellende driekwartvol stadion, nóg ʼn oënskynlike blaps deur ʼn televisieskeidsregter en nóg ʼn Superrugby-halfeindstryd vir die Hurricanes.

Ja, die Hurricanes het die agtste keer sedert 1996  tot die halfeindronde deurgedring toe hulle Vrydag in Wellington die Chiefs met 32-31 geklop het nadat hulle met rustyd met 17-10 voor was.

Die eindtelling was nie ʼn getroue weergawe nie, want die Hurricanes het die kragmeting met 31-17 in die sakkie gehad, maar dit nie toegeknoop nie.

Die Chiefs het teruggeslaan met twee drieë in die laaste vyf minute deur Damian McKenzie en Lachlan Boshier. Toe was dit reeds te laat.

Was dit ʼn stryd vir die fynproewer?

Dalk, want dit was hard en genadeloos en wie ook al in die halfeindstryd teen die Hurricanes speel, sal op hul stukke moet wees, hoewel daar leemtes by die Canes is.

Maar om die Barrett-broers, Nehe Milner-Skudder, TJ Perenara, Jack Lam, Ngani Laumape en Julian Savea (sjoe, hy het baie vaart verloor) aan bande te lê, gaan baie verg.

Dalk is die Hurricanes se voorspelers nie almal brekers nie en dalk is daar ʼn swakpunt of twee wat uitgebuit kan word.

Terug by die blasersbesluit wat ʼn groot invloed op die kragmeting gehad het.

Die TV-skeidsregter, Glenn Newman kon, ondanks verskeie kykweers, nie genoegsame bewyse vind of die Hurricanes se skrumskakel, TJ Perenara, die bal verloor het toe hy vir sy tweede drie oor die doellyn is nie.

Perenara was maar bra onseker (dis ʼn baie groot aanduiding), maar Newman kon nie daarmee fout vind nie.

Die Chiefs het meer besit en gebiedvoordeel gehad, hulle het baie meer aanvalle geloods, maar kon nie afrond nie en só gaan jy nie teen die Hurricanes wegkom nie.

Puntemakers –

Hurricanes (17) 32: Drieë: TJ Perenara (2) Julian Savea, Ben Lam. Doelskoppe: Beauden Barrett  (2), Jordie Barrett. Strafdoele:  Beauden Barrett  (2).
Chiefs (10) 31: Drieë: (Brad Weber, Anton Lienert-Brown, Damian McKenzie, Lachlan Boshier. Doelskoppe: Damian McKenzie (3), Charlie Ngata. Strafdoel: McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vra maar net ·

Wie het die wedstryd met 31 – 17 in die sakkie gehad. Canes of Chiefs. Volgens berig Canes, maar hulle teken een punt aan daarna en wen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.