Hurricanes in binnebaan, Waratahs bevestig tuis-kwarteindplek

Saterdag se drie wedstryde in Australasië het uitsluitsel gebring oor twee van die vier spanne wat hul kwarteindwedstryde in die Superrugby-reeks tuis sal speel.

Wanneer jy teen die Hurricanes in die Superrugby-reeks speel, is daar twee maniere om hulle te klop.

Jy moet wurgrugby speel, soos die Sharks vroeër vanjaar teen hulle gedoen het en hulle baie middelmatig laat vertoon het, maar dan moet jy ook meer drieë as hulle druk.

Die Blues het Saterdag in Wellington die eersgenoemde voorwaarde teen die Hurricanes goed uitgeoefen, baie druk op hulle geplaas en besit en gebiedsvoordeel oorheers, maar hulle kon nie afrond nie en is met 42-24 verslaan.

Die oorwinning beteken dat die Hurricanes (met 50 ligapunte ná hulle ook ʼn bonuspunt gekry het) byna verseker die voorste span benewens die drie afdelingswenners sal wees, en dus tuisveldvoordeel in die kwarteindronde sal hê al moet hulle nog aanstaande naweek teen die Chiefs speel (45).

Die Chiefs, wat tuis die Brumbies met 24-19 geklop het, het boonop ʼn veel swakker punteverskil (44 punte) as die Hurricanes en hul wiskundige kans om bo die ‘Canes in die vierde posisie te eindig, is sekerlik nul.

Die groot hoogtepunt van die Hurricanes se sege was die vier drieë wat Ngani Laumape, die stormramsenter, gedruk het. Hy is die slegs die sewende speler wat dit sedert 1996 in Superrugby kon regkry en dit laat vrae ontstaan of hy nie bo Sonny Bill Williams in die All Blacks-span moet wees nie.

Hy het ook baie vaart en ʼn bedrieglike systap, iets wat by Damian de Allende en André Esterhuizen ontbreek. Of word hulle maar net onderdruk?

Maar ai, dit moet darem lekker wees om saam met die balvaardige All Blacks-losskakel Beauden Barrett te speel. Hy skep al die kanse en plaas jou baie selde onder druk.

En die Blues? Dit was hul 20ste opeenvolgende verloorslag in ʼn Nieu-Seelandse derby en hul nagmerrie duur voort.

Puntemakers ‒
Hurricanes (21) 42:
Drieë: Julian Savea, Ngani Laumape (4), Beauden Barrett. Doelskoppe: Jordie Barrett (6).
Blues: (10) 24: Drieë: Rieko Ioane (2), Akira Ioane. Doelskoppe: Stephen Perefota (3). Strafdoel: Perefota .

♦  Vroeër Saterdag het die Chiefs die Brumbies met 24-19 geklop, maar dit was maar broekskeur en aan die einde moes hulle wal gooi nadat hulle rustyd met 17-0 voor was.

Die kwiksilwer losskakel Damian McKenzie was weer die keur van die Chiefs met sy systappe, vaart en taktiese skopwerk terwyl David Pocock die soveelste briljante vertoning vir die Brumbies gelewer het.

Die Chiefs was rustyd met 17-0 voor maar is in die tweede helfte oorheers. Die gevaarligte flikker vir die Chiefs, want as hulle tuis só speel, is braaiboud aanstaande naweek hulle voorland teen die Hurricanes.

Puntemakers ‒
Chiefs (17) 24: Drieë: Nathan Harris, Damian McKenzie, Johnny Fa’auli. Doelskoppe: McKenzie (3). Strafdoel: McKenzie.
Brumbies (0) 19: Drieë: Henry Speight (2), Tom Banks. Doelskoppe: Wharenui Hawera (2).

♦ Die Waratahs se oorwinning van 77-25 oor die Sunwolves het die Ligblouspan as wenner van die Australiese afdeling bevestig en hulle verdien daarmee ʼn kwarteindstryd op hulle tuisveld.

Die Sunwolves het vir 41 minute met net 14 man gespeel.

Hulle het hul man in die eeste helfte van die wedstryd in Sydney goed gestaan. Toe, in die 40ste minuut en met die telling net 19-18 in die Waratahs se guns, gaan druk Israel Folau ná ʼn moontlike vorentoe aangee ‒ maar die ding wat hulle eintlik gesink het, was ʼn rooi kaart wat ná die beweging aan die Sunwolves gegee is.

Met dié drie was die rustydtelling 24-18.

Die rooi kaart was seker volgens die reëls geregverdig, maar die duikslag van die Sunwolves se vleuel Semesi Masiwera is ter versagting op volle vaart uitgevoer en daar was geen bedoeling om sy teenstander deur die 90 grade op te lig nie.

Daarna was dit afdraande, en toe ʼn geel kaart aan die Wolves 30 minute later volg, was die telling reeds 60-25 in die Waratahs se guns. Die Waratahs het daarna in die laaste tien minute nog drie van hulle 12 drieë gedruk.

Die Waratahs het met die sege hul grootste telling nog in Superrugby opgestel.

Puntemakers ‒
Waratahs (24) 77:
Drieë: Sekope Kepu, Israel Folau (2), Kurtley Beale, Ned Hanigan, Nick Phipps, Taqele Naiyaravoro (2), Curtis Rona, Michael Wells, Alex Newsome (2). Doelskoppe: Bernard Foley (7). Strafdoel: Foley.
Sunwolves (18) 25: Drieë: Akihito Yamada, Michael Leitch, Akihito Yamada. Doelskoppe: Hayden Parker (2). Strafdoele: Parker (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AJ ·

Ek kyk nou na die wedstryd tussen die Bulls en die Jaguares … en hoewel die Bulls voorloop irriteer die belaglike haarstyle van die spelers my soveel dat ek liewer oorskakel na die sokker uitsending.

Sommige van die Bulls spelers lyk soos karakters uit die kinderbybel ..
Moses, Aaron, Goliat en Metusaleg. En ander lyk soos ontsnapte misdadigers uit Alcatrez! … verlore Indiaanse vegters uit die Amasone woude.

Ag nee Bulls! Julle lyk SLEG!

Sodra jy aan ‘n spansport deelneem los jy jou persoonlike grilletjies en giertjies en onderwerp jou aan die norme en standaarde van jou span en jou klub / provinsie/ land.

Ek kry skaam dat sulke belaglike haarstyle toegelaat word by plaaslike rugbyspelers!

Die kuifies, krulletjies en lokkies … en die melkbaardjies getuig van onvolwassenheid en swak dissipline by beide die spelers en die bestuur.

Komaan mense … word nou groot!

As jou krulle en lokke vir jou so belangrik is verlaat asb die sportveld en gaan doen modelwerk … waar jy slegs jouself kan ‘vergat’ en nie die sport, span, provinsie of land in die verleentheid stel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.