Hurricanes leef swaar, maar druk tog sewe drieë teen Stormers

Die Stormers het Vrydag met moed, en met Suid-Afrikaanse rugby gebaseer op voorlangs hard werk en min hardloop, van ʼn 3-17-agterstand na 22-elk teruggeveg, maar steeds met 24-41 teen die Hurricanes verloor.

Vrydag het die Stormers se verdediging die tuisspan laat werk vir sy punte, maar die Hurricanes het steeds sewe teen een keer gaan druk.

Daardie vloeiende hardloopwerk van die verdedigende kampioen was egter afwesig, in die vastelos is hulle dikwels by die afbreekpunte van die bal gestoot en ook anderkant die voordeellyn vasgevat.

By die lynstane had die Hurricanes geen antwoord teen die dryfwerk en rolmale van die Stormers nie.

Hulle was nietemin gou-gou met 17-3 voor ná drie drieë waarvan Jordie Barret net een vervyf het. Toe het die Stormers se eerste drie ná ʼn einste rolmaal in Ramone Samuels se eerste Superdrie gevolg terwyl Bongi Mbonambi in die koelkas was, Robert du Preez het verdoel, maar is toe met ʼn skouerbesering van die veld.

Die rustydtelling was 22-16 ná nog ʼn onverdoelde Canesdrie en twee strafdoele van SP Marais.

Marais het daarna nog twee strafskoppe oorgeskop om dit 22-elk te maak met 28 minute se speeltyd oor. Marais het nou, sedert hy skopkans by die Stormers kry, agt uit agt skoppe oorgeskop, die meeste van hulle ver en dikwels ook skuins.

Die eerste vier drieë van die Stormers was almal ná skoppe – drie van hulle deur Beauden Barrett na die vleuels, en een van PJ Perenara wat ʼn rolskoppie was wat goed verder gevoer is en in ʼn drie geëindig het.

Die enigste punt waarop ʼn mens die Stormers se verdediging kan kritiseer, was hulle geneigdheid om effens in die agterlyn te bondel ten einde die hardloopkans van die Canes se gevaarmanne met druk te beperk.

Beauden Barrett het dit egter goed uitgebuit, en sy vleuels en heelagter broer Jordie met akkurate dwarsskoppe van die bal voor ʼn oop doellyn voorsien terwyl die Stormers almal nader aan die spel vasgetrek was.

♦  Toe die Hurricanes in die knyp was, het hulle egter in die laaste 16 minute nog drie keer gaan druk – een keer van feitlik hulle eie doellyn af nadat die Stormers sterk aangeval en toe die val verloor het. Beauden Barrett het toe nóg een van sy dwarsskoppe losgelaat en dit was als oor vir die moedige Stormers.

♦  Moedig, ja. Met al hul beserings was die Stormers egter nie opgewasse nie. En die Nieu-Seelandse toer as geheel het vir hulle teenstanders 24 drieë teen net ses gebring, gemiddeld dus agt drieë teen twee per wedstryd.

Die toer se tellings van 57-24, 57-14 en nou 41-22 beteken dat die Stormers 155 punte afgestaan het en slegs 60 aangeteken het, ʼn gemiddelde telling van 51-20.

Dit was die Stormers se vierde opeenvolgende neerlaag nadat hulle voor die toer ook met 16-29 teen  die Lions verloor het.

Puntemakers –

Hurricanes (22) 41: Drieë: Cory Jane, Jordie Barrett 2, Julian Savea, Ngani Laumape 2, Beauden Barrett. Doelskoppe: Jordie Barrett 3.
Stormers (16) 22: Drie: Ramone Samuels. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoele: Du Preez, SP Marais 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Vier van die Hurricanes se drieë ( 22 punte) het gekom van foute deur Leyds, Carr, Mbonambi wat ‘n geel kaart ontvang het en Kolbi wat te lig in die broek is. Nie goed genoeg nie.

Frans C ·

Beauden Barrett se spel op losskakel was te veel vir die Stormers.Die kere wat hy vasgevat is,was die Stormers in die wedstryd. Hy is by tye toegelaat om die spel te dikteer en het veral
die ruimte agter die Stormers se agterlyn met slim skoppe uitgebuit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.