Hurricanes op die oorlogspad

Beauden Barrett -speel langs sy broer Jordie wat nou op senter is. (Foto Facebook)

Die Nieu-Seelandse Superrugbyspanne het nou oplaas die spinnerakke van die onlangse Britse en Ierse Leeus se rugbytoer afgeskud.

Die Hurricanes het, afgesien van die beseerde senter Vince Aso wat sy lies beseer het toe die span verlede week opgewarm het,  hul beste groep gekies vir Vrydag se kwarteindstryd in Canberra teen die Brumbies.

Nou hoef die All Blacks nie meer gerus te word nie, nou hoef daar nie meer draaie geloop te word nie; dis net afdraande op pad na ʼn moontlike eindstryd.

Die groep moet die Brumbiesafrigter, Stephen Larkham, seker na sy bloeddrukpilletjies laat gryp, want dit sluit die eerste keer die twee Barrett-broers, Beauden (losskakel) en Jordie (senter), langs mekaar in. Dit gaan baie interessant wees om te sien hoe hulle kombineer.

Jarelank het hulle in die agterplaas langs en teen mekaar gespeel. Hulle ken mekaar se sterk- en swakpunte, en boonop is die nuwe All Black-stormram Ngani Laumape ook tussenin om die Brumbies tromp-op te loop.

Dan speel die vlugvoetige Nehe Milner-Skudder weer heelagter en is Julian Savea linkervleuel met die onderskatte  oud-Suid-Afrikaner Wesley Goosen  aan die anderkant.

Goosen is in Oos-Londen gebore, maar sy ouers het na Nieu-Seeland verhuis toe hy net vier jaar oud was.

Swakplekke? Die Hurricanes se pak het ʼn paar leemtes. Maar die oud-Sharksafrigter, John Plumtree, sou sekerlik hul vaardighede verbeter het.

Plumtree is nog van die ou skool, wat glo dat spelers eers hul primêre taak moet uitvoer voordat daar rondgehardloop kan word. Geen kortpaaie nie, net skouer aan die wiel

Die woelige All Black-haker Dan Coles is op die bank. Coles het in Maart van hoofpyne begin kla en was sedertdien langs die veld en ook langs die bank. Nou is hy slaggereed en sal hy dadelik die kapteinskap by TJ Perenara oorneem wanneer hy Ricki Riccitelli in die tweede helfte vervang.

Hurricanes –
Nehe Milner-Skudder, Wes Goosen, Jordie Barrett, Ngani Laumape, Julian Savea, Beauden Barrett, TJ Perenera (kapt.), Brad Shields, Ardie Savea, Vaea Fifita, Sam Lousi, Mark Abbott,  Jeff To’omaga-Allen, Ricki Riccitelli, Ben May. Bank: Dane Coles, Loni Uhila, Reed Prinsep, Callum Gibbins, Te Toiroa Tahuriorangi, Otere Black, Cory Jane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.