Hurricanes se ‘yslike kopseer’

Ai, dit moet darem baie lekker wees om ʼn span te kies deur te besluit watter All Black weggelaat moet word.

Dis een van die “probleme” waarmee die Hurricanes se afrigters, Chris Boyd en John Plumtree, op die vlug van Sydney na Suid-Afrika opgesaal was vir Saterdag se Superhalfeind teen die Lions op Ellispark.

Die Hurricanes se vlugvoetige senter Vince Aso het hom Saterdag in Sydney by die span aangesluit nadat hy ʼn fiksheidstoets in Wellington geslaag het en die kragmeting in die kwarteindstryd met die Brumbies misgeloop het.

Die talentvolle Aso, wat eintlik maar aan die kleinerige kant (1.85 m en 90 kg) volgens die sogenaamde huidige standaarde vir ʼn senter is, is saam met sy sentermaat, die All Black Ngani Laumape, die voorste driedrukkers in vanjaar se reeks. Hulle het albei 14 drieë gedruk vir ʼn somtotaal van 28.

Kom ons plaas dit in perspektief: Dis net tien drieë minder as wat die Sharks (38) en 11 drieë minder as wat die Bulls (39) onderskeidelik in 15 groepwedstryde gedruk het. Neem ook in ag dat die Hurricanes teen die sterker Nieu-Seelandse spanne gespeel het.

Maar wie gaan Boyd-hulle weglaat, nadat Jordie Barrett senter teen die Brumbies gespeel het? Die vlugvoetige heelagter Nehe Milner-Skudder? Of sal hy terug vleuel toe skuif in die plek van Julian Savea?

Jordie Barrett sal sekerlik in die opdrafspan wees, want hy skop pale toe en maak saam met sy broer, Beauden, amok.

Dan is die All Black-haker Dan Coles ook terug in die tuig nadat hy sedert Maart langs die kantlyn met harsingskudding was. Hy is in die tweede helfte teen die Brumbies opgestuur en het dadelik impak gemaak. Sal hy in die beginspan wees en die kapteinskap oorneem? Of sal RickiRiccitelli weer begin en Coles later opgestuur word?

Terloops, Riccitelli, wat van Italiaanse afkoms is, is in Durban gebore voordat sy ouers ʼn hele paar jaar gelede na Nieu-Seeland verhuis het.

Boyd en Plumtree was glad nie tevrede met die Hurricanes se vertoning teen die Brumbies nie, hoewel hulle met 35-16 gewen het. Boyd het die vertoning as “slordig” beskryf en sê hy was baie teleurgesteld oor hoe die ‘Canes by die afbreekpunte meegeding het.

Arrogant, of is die maatstawwe wat daar aan die Nieu-Seelandse spelers gestel word net veel hoër?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die enigste kans wat die Leeus het is om die span voor aan te pak en onder druk te hou,soos die Brumbies dit in die begin gedoen het,maar dit nie kon volhou nie.

Speel die Leeus weer so los en slordig wag ‘n pakkie slae op hulle want die Hurricanes is meesters in teenaanvalle van foute en omgekeerde besit.As die tuisspan die laaste 20 minute nog in die wedstryd is en die lugdruk besoekers se fiksheid begin toets kan hul die Hurricanes klop,maar dan moet dit tagtig minute van bloed en sweet wees.

Gebeur dit nie gaan die beker vir die soveelste keer,amper tot vervelens toe,sy tuiste in NZ vind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.