Hurricanes waai die Sharks weg

Dit was maar weer dieselfde ou storie.

Die Sharks se kanse om vanjaar tot die kwarteindronde van die Superrugbyreeks deur te dring het nog ʼn knou weg nadat hulle Saterdag op hul tuisveld met 30-17 deur die Hurricanes geklop is.

Die rustydtelling was 20-10 in die besoekers se guns en hul afrigter, John Plumtree, moet sekerlik in sy mou lag, want die Sharks het in sy hand gespeel, net soos hy hulle jare gelede leer ken het toe hy hulle nog afgerig het (en kort voordat die spel ʼn metamorfose ondergaan het).

Die Sharks het volgens statistieke baie verder met die bal gevorder (542 m teenoor 335) hulle het die bal meer aan- en uitgegee (109 teenoor 95), hulle het oorgenoeg besit in die skrums en lynstane gehad en moes boonop minder duikslae uitvoer (79 teenoor 115).

Maar, die Sharks het 24 duikslae gemis teenoor die Hurricanes se 21.

Teen spelskeppers soos Beauden en Jordie Barrett, Jack Lam, Wes Goosen, Matt Procter, Ngani Laumape, Ardie Savea en TJ Perenara gaan jy nie daarmee wegkom nie. Die Hurricanes verstaan ook die kuns om drieë van eerstefase-besit af te druk.

Die Sharks is steeds in die wedloop, maar hulle kom in hul laaste twee wedstryde teen die Jaguares (Buenos Aires) en dan op Nuweland teen die Stormers te staan.

Die Jaguares is agt punte voor die Sharks op die puntelys en moet nog teen die Sunwolves speel. Nog vyf punte in die sakkie.

Ook, as die Sharks nie tuis die Hurricanes kan klop nie, hoe gaan hulle weg van die huis af dit doen?

Aan die ander kant, die Sharks hou daarvan om te toer en dalk kan hulle die agterdeur oopskop om tot die kwarteindronde deur te dring. Maar alles dui daarop dat hulle in een van die kwarteindrondes weer die lang tog sal oorsee sal moet aandurf.

Tuis, weg … tuis, weg … tuis, weg. Al vlieg jy ook al in besigheidsklas, die tydsones maak jou gedaan.

Vir die Sharks was daar tog ʼn hele paar opflikkeringe, maar hulle was oorywerig, skep nie die regte kanse nie, verbrou daardie laaste belangrike aangee.

Jean Luc en Dan du Preez was weer ysters (ai, hoe gaan hul vaardighede nie verbeter by die Sale Sharks onder die gewese Chiefs-afrigter Dave Rennie nie?)

Agterlangs was Aphelele Fassi baie gevaarlik, maar hy word nie genoeg ingespan nie.

Puntemakers:

Hurricanes 30 (20): Drieë: Jordie Barrett, Ngani Laumape, Wes Goosen. Doelskoppe: Beauden Barret (3). Strafdoele: Beauden Barrett (3).

Sharks 17 (10): Drieë: Aphelele Fassi, Juan Schoeman (2). Doelskoppe: Curwin Bosch. Strafdoel: Bosch.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

·

Dit gebeur as Janties nie speel nie!!
Sharks was nerens en wys jou hoe lucky hulle was laas naweek! Nog ou groote

willem Botha ·

Die sharks wen een en verloor een is hulle maar swak die jaar of het die wêreldbeker iets daarmee te doen?

Frans C ·

Anders as teen die Leeus toe twee onderskepdrieë (14 punte) die Sharks gered het
was hul tande met uitsondering van een of twee geleenthede stomp en hul agterspel
verbeeldingloos.

Ruaan ·

Ek het nie n probleem met die sharks se voorspelers nie. My probleem is by hulle agter spelers veral met Am wat nooit n bal behoorlik uitgee nie of as hy moet uitgee hou hy hom vas. Deesdae sien ek Robert du Preez jnr het ook n uitgee probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.