Hurricanes wag as Lions die Sharks Saterdag klop

As die Lions Saterdag op Ellispark hulle kwarteind teen die Sharks wen, sal hulle die daaropvolgende week, ook in Johannesburg, teen die wenner van die wedstryd tussen die Hurricanes en die Brumbies te staan kom.

Sanzaar se bepalings vir die halfeind is nie goeie nuus vir die Lions nie, maar was te wagte.

Die Hurricanes is die verdedigende kampioen, en húlle het die afgelope naweek ondubbelsinnig teen die onoorwonne Crusaders geseëvier. Dit sal sommer vir die Lions die kans op weerwraak gee, want dit is die Hurricanes wat hulle verlede jaar in Wellington met 20-3 in die Supereindstryd geklop het.

Die Hurricanes behoort op ʼn drafstap te wen teen die sukkelende Brumbies, wie se blote teenwoordigheid sonder enige meriete in die uitspeelwedstryde, die ondeurdagte aard van die verwronge kompetisie beklemtoon.

In die eindstryd kan dit natuurlik enige van die Crusaders, Highlanders, Stormers of Chiefs wees wat, ook op Ellispark, teen die Lions moet speel.

Maar ʼn mens moet sake nie vooruit loop nie. Die Sharks en waarskynlik die Hurricanes moet eers hokgeslaan word.

Kwarteindwedstryde –
(1 teen 8, 2 teen 7, 3 teen 6, 4 teen 5):

K1: Lions (1) vs Sharks (8)
K2: Crusaders (2) vs Highlanders (7)
K3: Stormers (3) vs Chiefs (6)
K4: Brumbies (4) vs Hurricanes (5)

Halfeindstryde (28/29 Julie) –

SF1: Wenner K1 vs Wenner K4
SF2: Wenner K2 vs Wenner K3

Eindstryd (5 Augustus) –

Wenner SF1 vs Wenner SF2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans s C ·

As die Super 18 kompetisie daar is om rugby te bevorder wêreldwyd het dit klaglik in sy doel misluk.Dit is belaglik dat ‘n span net omdat hy soos die Brumbies ,wat negende in die kompetisie eindig ,nog steeds in die kompetisie is, omdat hy ‘n konferensiewenner is.
Da is daar natuurlik nog steeds ‘n kans dat die Sharks wat sewende eindig en reeds vyf keer in ‘n ry deur die Lions geklop is, nog steeds die span wat eerste ge-eindig het kan uitskakel.

Dit wys maar net hoe belaglik die kompetsie is.Onder normale omstandighede sou slegs die eerste vier spanne in ‘n halfeind en eindstryd betrokke wees,wat dan ‘n meer regverdige kompetisie sou wees.

Volgens hoe sommige sokkerligas gespeel word sou die Lions die bekerwenner wees.

Jaybee ·

Eerstens wil ek net die Lions geluk wens met hul uitstekende vertonings deur die loop van die seisoen. Ek wens hulle alle voorspoed toe vir die uitspeelwedstryd, my mening is dat hulle moet voorberei om teen die Hurricanes te speel in die half eindstryd. Hierdie Blou Bul ondersteuner sal julle “support”

Josua Keys ·

Lions teen die Crusaders op Ellispark, dan kan hulle die bordjie teen hulle ook sommer verhang, want die Crusaders was die span waarteen die Lions die meeste gesukkel het.

Nico K ·

Ek hoor baie optimisme oor die Leeus se kanse met slegs tuiswedstryde wat voor lê, maar as ek na die situasie kyk moet mens nie te optimisties wees nie. Die Leeus het nie vanjaar vir my so goed gelyk as laasjaar nie. (Baie naelskraapse oorwinnings teen die Haaie, Jaqueres, Cheetahs. ) En laasjaar het hulle op hul tuisveld verloor teen die Crusaders en Hurricanes. En weg verloor teen die Highlanders en Chiefs. So dit gaan 3 moeilike wedstryde wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.