Hurricanes wag op Lions of Sharks

ʼn Mens kan nooit ʼn Nieu-Seelandse rugbyspan onderskat of afskryf nie, selfs al moet hy na Suid-Afrika vir ʼn uitspeelwedstryd reis, maar daar is krake in die Hurricanes se mondering wat aanstaande Saterdag deur òf die Lions òf Sharks uitgebuit kan word.

Die ‘Canes het Vrydag in Canberra weliswaar die Brumbies met 35-16 in die eerste van die naweek se kwarteindstryde geklop, maar hulle het allermins na die span gelyk wat verlede jaar die Superreeks verower het.

Dalk wou hulle net genoeg gedoen het om tot die halfeindstryd te vorder; of dalk wou hulle nie nou al hul kaarte op die tafel geplaas het nie, want daar lê minstens een, en dalk nog twee uitspeelwedstryde voor.

Die Brumbies was rustyd met 16-15 voor, maar soos ons al vanjaar van al die Aussie-spanne geleer het, het hul stoom opgeraak.

Daar is vooraf baie gesê oor die terugkeer van Dane Coles, die Hurricanes- en All Blacks-haker, wat byna vier maande langs die kantlyn met harsingskudding was. Coles is in die tweede helfte opgestuur en het nie teleurgestel nie.

Nog groter was die oomblik toe Christian Leali’ifano, die Brumbies se veelsydige agterspeler by wie leukemie verlede jaar gediagnoseer is, ook opgestuur is. Dit was ʼn emosionele oomblik vir een van die vegters van wêreldrugby, maar ongelukkig kon dit nie die vroeë vonk aan die brand hou nie.

Puntemakers

Hurricanes (15) 35: Drieë: Wes Goosen 2, Jordie Barrett, TJ Perenara. Doelskoppe: Barrett 3. Strafdoele: Barrett 3.
Brumbies 16 (16): Drieë: James Dargaville, Josh Mann-Rea. Strafdoele: Wharenui Hawera 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.