Vrydagoggend se kragmeting tussen die Blues en die Hurricanes op Eden Park het ʼn bobaasstryd opgelewer.
Die ’Canes het 22–12 gewen. Ja, hulle het foute gemaak (’n héle paar), maar daar is ’n tikkie dringendheid so saam met die foute te bespeur; dinge gebeur darem op die veld.
Die Blues het eerste op hul tuisveld punte aangeteken toe Sam Nock deurgebars het. Die ’Canes het egter onmiddellik geantwoord toe Ben Lam ’n juweel van ’n drie gedruk het.
Die tuisspan was toe op die voorvoet, maar omgekeerde balbesit (die gevaarlikste vorm van besit) het vir Lam genoeg spasie gegee om sy toorkunsies uit te stel. Hy het vier verdedigers geklop, sy ore platgetrek en ’n skitterdrie gedruk.
Jordie en Beauden Barrett het gesorg dat die ’Canes ’n rustydvoorsprong van 14–7 geniet.
Die Blues was egter deurgaans op hul stukke en Dalton Papalli het in die hoek oorgeduik ná ’n sterk lopie met die bal onder die arm al langs die kantlyn af.
Maar in Beauden Barrett het die Hurricanes in alle waarskynlikheid die vinnigste losskakel in wêreldrugby en sy onderskepdrie het die pendulum weer in die besoekers se guns laat swaai.
Die laaste 10 minute van die wedstryd was ’n aksiebelaaide en holderstebolder affêre, maar die ’Canes het net ’n antwoord op elke Blues-vraag gehad.
Die Suid-Afrikaanse stut, Ross Geldenhuys, het ’n goeie wedstryd vir die Hurricanes gehad.
Puntemakers:
Hurricanes: Drieë: Ben Lam, Jordie Barrett, Beauden Barrett. Doelskoppe: Beauden Barrett (2). Strafskop: Jordie Barrett.
Blues: Drieë: Sam Nock, Dalton Papalli. Doelskoppe: Harry Plummer.
Ja help ok as jy n ref aan jou kant het…