Hurricanes wys hoe opvolgbeplanning moet werk

John Plumtree – word hoofafrigter van die Hurricanes (Twitter@1NewsSportNZ)

Dís mos hoe jy in rugby beplan.

Die Hurricanes, voorverlede jaar se Superkampioen, het reeds sy hoofafrigter en assistentafrigter vir aanstaande jaar aangestel om die huidige hoofafrigter, Chris Boyd, op te volg.

Die voormalige sewes-Springbok en later ook hoofafrigter van die Sharks, John Plumtree, word die nuwe hoofafrigter in Boyd se plek. Boyd gaan by Northampton in die Engelse Premierliga afrig.

Plumtree se assistentafrigter sal Jason Holland wees, wat reeds by die Hurricanes saam met Boyd-hulle afrig.

♦  Plumtree was lid van die Canes se afrigtingspan wat die Superreeks in 2016 gewen en ook van die span wat in 2015 in die eindstryd verloor het.

♦  Nadat Plumtree in 2012 op omstrede wyse deur die nuwe Sharks-hoofbeampte, die voormalige Bokkaptein John Smit, die deur gewys is, het hy as voorspelerafrigter vir Ierland die Sesnasies in 2014 en 2015 help wen.

Smit was ongereeld in die Sharks se beginspan met Bismarck du Plessis wat Plumtree se voorkeurhaker was. Laasgenoemde het deur die media verneem dat hy nie langer deel van die nuwe hoofbeampte Smit se vernuwingsplanne was nie.

Ironies genoeg was dit Plumtree se vertrek by die Sharks wat tot die vinnige verwisseling in afrigters die afgelope paar jaar by hulle gelei het.

Ná Plumtree het Smit ook met Jake White, die man wat hom as Junior Springbok en tydens feitlik sy eie Springbokloopbaan afgerig het,  vasgesit toe White by die Sharks afgerig het. Ook hý is toe skielik weg en deur Gary Gold opgevolg wat self gou padgegee het en toe op kort kennisgewing deur sy assistent Robert du Preez vervang is.

Plumtree, wat in Nieu-Seeland vir Taranaki gespeel het voordat hy Durban toe verhuis en toe in 1990 in die Natalse span was wat vir die eerste keer die Curriebeker gewen het, het as afrigter twee Curriebekertitels gewen.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.