Iere bederf Engelse partytjie

ierland-logo-grootEngeland se rugbyspan moet maar bly wees dat hy nie vanjaar teen die All Blacks speel nie.

Vergeet maar van die praatjies dat die spanne mekaar op 4 November op Twickenham sal pak, want die Engelse sal ná Saterdag se drag slae teen Ierland in die Sesnasies-reeks nie so dom wees as om teen die All Blacks te speel nie.

Hulle het weliswaar die All Blacks se wêreldrekord (vir groot spanne) van 18 agtereenvolgende toetse geëwenaar, maar  daar sal nog baie water in die see moet loop voordat hulle as die beste span ter wêreld beskou sal word.

Baie kenners, en ek ook (nie dat ek ʼn kenner is nie)  het voorspel dat Engeland genoeg skietgoed sal hê om die Iere te klop, maar hulle is Saterdag in Dublin met 13-9 in die laaste Sesnasieswedstryd deur die passievolle Iere geklop.

Dis hoekom ons rugby speel, dis hoekom ons rugby kyk, om te sien hoe ʼn baie goeie kleintjie ʼn grote laat ontspoor.

Oe, maar dit was lekker om die bitterbek Eddie Jones kort voor die einde stil te sien.

Ek het baie agting vir Jones as afrigter, maar dié keer verdien die Ierse afrigter, Joe Schmidt, al die pluimpies. Die Iere is gery deur ʼn rits beserings, die Franse skeidsregter het van die Engelse oortredings oorgesien, maar  as jy ʼn goeie afrigter is, sal jou spelers volg.  Lig die hoede vir Robbie Henshaw, Keith Earls, Simon Zebo, Jonny Sexton en die hele Ierse pak, hulle het verdien om die Engelse te klop.

Kom ons maak sommetjies. Die Iere het die All Blacks verlede jaar in Chicago laat ontspoor, hulle het die Bokke in die eerste toets in Junie op Nuweland met 14 man geklop nadat CJ Stander afgejaag is en nou het hulle Engeland ook getroef. Verdien hulle nie om as een van die grotes van wêreldrugby beskou te word nie?

As hulle ʼn bietjie meer bestendig is, kan hulle met reg saam met die groot honde blaf.

ʼn Tweede plek in vanjaar se Sesnasiesreeks is nie te versmaai nie en met Rassie Erasmus wat Munster in ʼn masjien ontwikkel het en Leinster wat ook hul spiere bult, lê ʼn bloeitydperk vir Ierland voor.

In Engeland, soos ek die Engelse pers leer ken het, sal die lang messe nou begin geslyp word, al was hulle in 18 toetse onoorwonne.

Puntemakers –

Ierland (10) 13: Drie: Iain Henderson. Doelskop: Jonny Sexton. Strafdoele: Sexton 2.
Engeland (3) 9: Strafdoele: Owen Farrell 3.

♦  In Parys het Frankryk in een van die langste, indien nie die langste wedstryde ooit, teen Wallis met 20-18 gewen. Die Engelse skeidsregter, Wayne Barnes, het spel laat aangaan en aangaan en die spanne het vir byna 20 minute lank geskrum en geskrum voordat die Franse die wendrie gedruk het. Hoekom Barnes nie vroeër ʼn strafdrie toegeken het nie, weet net hy, want Wallis wou (of kon nie) meer skrum nie.

Puntemakers –
Frankryk (10) 20:
Drieë: Remi Lamerat, Damien Chouly. Doelskoppe: Camille Lopez 2. Strafdoele: Lopez 2.
Wallis (9) 18:  Strafdoele: Leigh Halfpenny 6.

♦  In Edinburgh het die Skotte hul afrigter, Vern Cotter (hy neem oor by Jake White by Montpellier), op ʼn hoë noot gegroet toe hulle Italië met 29-0  geklop het.

Ek dink Brendan Venter (hy het Italië met hul verdediging gehelp) was net so bly soos die Skotte was toe die eindfluitjie geblaas het, want nou kan hy sy volle aandag aan die Bokke gee, wat dit nodig gaan hê.

Puntemakers –

Skotland 15 (29): Drieë: Finn Russel, Matt Scott, Tim Visser, Tommy Seymour. Doelskoppe: Russell 3. Strafdoel: Russell.
Italië: (0) 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magriet ·

Kan iemand asseblief tog die Afrikaanse kommentators op die televisie leer Afrikaans praat!

Ryno ·

Nie die beste berig nie, 13-9 sal ek nou nie ñ drag slae noem nie. En ek kan nou nie eintlik onthou dat Ierland as ñ “kleintjie” gesien word nie, hulle blaf al lankal saam met die groot honde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.