Iere en Maori’s blink, Wallis en Skotland so-so

Ierland het Italië vermorsel, die Nieu-Seelandse rugbydiepte laat jou net eenvoudig kop skud en Wallis en Skotland het, soos die Springbokke, albei heelwat werk wat voorlê voordat hulle teen Suid-Afrika speel.

In Chicago het Ierland, met feitlik ʼn tweede span, die arme Italië ná rustyd aan flarde gehardloop en met 54-7 gewen. Dié wedstryd is vroegoggend SA tyd gespeel.

♦ Skotland het Saterdag die tiende agtereenvolgende keer in Cardiff verloor en een drie gedruk terwyl hul senter Huw Jones, wat vir die Stormers gespeel het, die blaam kry vir Wallis se twee drieë deur George North en Jonathan Davies.

Met albei spanne wat buite die toetsvenster van hul voorste spelers nie kon kies nie, was dit, soos op Twickenham tussen Engeland en Suid-Afrika, ʼn wedstryd wat nie lank onthou sal word nie. Wallis was ongetwyfeld die beste span maar het, ondanks hul sewe Britse en Ierse Leeus,  baie werk wat voorlê om op toetsvlak te kom; en Skotland was maar Skotland, moeilik sonder oortuiging dat hulle ʼn wenspan is of kan word.

♦ In Chicago het die Maori-span, met tien nuwelinge, eenvoudig oor die Amerikaanse Arende gespoel en met 59-22 gewen. Gary Gold se span, wat oor elf maande in die Wêreldbeker in die groep teen Engeland, Frankryk, Argentinië en Tonga moet speel, was teleurstellend, hoewel hulle glo ook nie heeltemal op volsterkte was nie.

Dít sou egter nie veel saakgemaak het teen ʼn span wat geen van sy spelers kon kies wat in die voorste 51 van die All Blacks wat tans in Japan en Brittanje toetsrugby speel  nie.

Die Maori’s het tien drieë teen die drie van die tuisspan gedruk en was rustyd reeds met 26-8 voor. Hulle het op dieselfde patroon as die All Blacks die tuisspan met hul ondersteunende hardloopspel deurmekaar gespeel.

♦ Ierland was met wat in hul tuisland ʼn “eksperimentele” span genoem is, veral na rustyd net eenvoudig in ʼn ander liga as die Italianers. Hulle het met 54-7 gewen en die heelagter Jordan Larmour het drie van hul agt drieë gedruk.

Ierland was rustyd slegs met 14-7 voor, maar het in veral die tweede helfte toe nog ses keer gaan druk. Dit is duidelik dat daar in Ierland benewens gehalte ook heelwat diepte is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.