Iere en Skotte steeds in wedloop, Franse en Wallis gly

ierland-logo-grootDie agterdeur bly steeds oop vir Ierland of Skotland se rugbyspanne om die Sesnasies-reeks te wen, maar vir Wallis en Frankryk is dit neusie verby.

Ierland het Saterdagaand in die Aviva-stadion in Dublin die Franse met 19-9 getroef om hul aanspraak te behou. Die Iere was rustyd met 7-6 voor en hulle het weer getoon dat hul oorwinning oor die Bokke in Junie en die All Blacks in November g’n gelukskoot was nie. Die span is baie goed afgerig, hul beperk hul foute tot ʼn minimum en voer die basiese dinge reg uit.

Kom ons wees eerlik, daar bestaan nie meer ʼn gaping tussen die Noordelike en Suidelike Halfrond nie.  Trouens, afgesien van die All Blacks, hoort Engeland, Ierland en ook Skotland, soos hulle nou speel, tussen die topses.

Die Skotte, die verrassingspakkie in die reeks, het die horlosie op Murrayfield in Edinburgh tien jaar teruggedraai toe hulle Wallis met 29-13 geklop het om ʼn verloordroogte van nege agtereenvolgende nederlae te breek. Wallis was rustyd nog met 13-9 voor, maar hulle kon nie by die Skotte byhou nie.

Die glanspunt in albei wedstryde was die vertonings van die twee losskakels, Jonny Sexton van Ierland en Finn Russell van Skotland, wat as speler van die wedstryd aangewys is nadat hy 19 punte met die skoen bygedra het.

Sexton, wat lank beseer was, het uitgetroon. Sexton was in die visier van die Franse en het weer deurgeloop, maar hy het koelkop gebly, die meeste veld (67 meter) van al die spelers gewen en was nie bang om die groot en fisieke Franse plat te trek nie.

Hy het baie kanse vir sy senterpaar, Robbie Henshaw en Garry Ringrose, geskep en komkommerkoel met ʼn skepdoel geslaag om die Franse se moed verder te knak.

Met Sexton in die span kan die Iere oorlog toe gaan, maar hy sal in watte toegedraai moet word, want hy loop te veel deur.

Die Franse, ondanks twee nederlae in die reeks, kan in Junie op hul toer na Suid-Afrika die Bokke se hoofpyne vererger. Scott Spedding en Noa Nakaitaci was baie gevaarlik op die aanval en die Franse se monsterskrum kan die Bokke baie probleme besorg.

Puntemakers –
Ierland (7) 19: Drie: Conor Murray. Doelskop: Jonny Sexton. Strafdoele: Sexton 2, Paddy Jackson. Skepdoel: Sexton.
Frankryk (6) 9: Strafdoele: Camille Lopez 3.

Skotte knou ʼn hele paar reputasies

Voor die kragmeting, was die Walliese slot Alun Wyn Jones een van die gunstelinge om die Britse en Ierse Leeus vanjaar in Nieu-Seeland aan te voer, maar hy is deur die Skotte se Jonny en Richie Gray oorskadu.

Só ook was Justin Tipuric en Sam Warburton kookwater in die eerste helfte, maar die Skotse losvoorspelers het  hulle in die tweede helfte geneutraliseer.

Die groot vleuel Tim Visser het ook gepronk en hy moes saam met Wallis se Liam Williams ʼn regmerkie gekry het by die Leeus se afrigter, Warren Gatland, wat in die paviljoen was.

Ai, dit was lekker om te kyk hoe ʼn goeie kleintjie sy kinderskoene ontgroei het en nou saam met die groot honde blaf.

Puntemakers  –
Skotland  (9) 29: Drieë:  Tommy Seymour, Tim Visser. Doelskoppe: Finn Russell 2. Strafdoele: Russell 5.
Wallis (13) 13: Drie: Liam Williams. Doelskop: Leigh Halfpenny. Strafdoele: Halfpenny 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.