Iere mik na eerste reekssege in 39 jaar teen Wallabies

Soos Nieu-Seeland en Suid-Afrika het Ierland se afrigter, Joe Schmidt, ʼn hele aantal veranderinge aan ʼn wenspan aangebring vir Saterdag se reeksbepalende wedstryd teen die Wallabies in Sydney.

Schmidt het vyf skuiwe gemaak aan die span wat die Wallabies verlede naweek met 26-21 geklop het. Ierland is op die randjie van sy eerste reekssege in Australië sedert 1979, maar Schmidt kyk, soos die ander afrigters, reeds vorentoe na aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi.

Een van die Ierse veranderinge is CJ Stander wat van agsteman na oopkantflank toe skuif met die kaptein Peter O’Mahony, wat die Britse en Ierse Leeus verlede jaar in een toets teen die All Blacks aangevoer het, as sy flankmaat.

Dié skuif, met Jack Conan wat op agsteman kans kry, is gedoen om die vaardigheid van die Wallabies se Michael Hooper en David Pocock by die afbeekpunte die hoof te bied.

Trouens, hierdie faset kan moontlik die deurslag gee met die Wallabies wat die fisieke Lukhan Tui as die steelkantflank gekies het om Hooper-hulle by te staan.

Kurtley Beale en Israel Folau is die groot aanvalswapens van die tuisspan, wat egter deur die besering van die voorste skrumskakel Will Genia gekortwiek word. Sy plaasvervanger Nick Phipps se ervaring is ʼn bate, maar Genia het daardie iets spesiaals wat vir die Aussies werk.

En net so sal die Iere weer staatmaak op Jonny Sexton se gawe om die teenstanders met goed geplaaste skoppe te laat omdraai en op die regte oomblikke te laat loop.

Dit behoort ʼn riller te wees.

Spanne ‒

Australië
15 Israel Folau, 14 Dane Haylett-Petty, 13 Samu Kerevi, 12 Kurtley Beale, 11 Marika Koroibete, 10 Bernard Foley, 9 Nick Phipps, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Lukhan Tui, 5 Adam Coleman, 4 Izack Rodda, 3 Sekope Kepu, 2 Brandon Paenga-Amosa, 1 Scott Sio. Bank: 16 Tolu Latu, 17 Tom Robertson, 18 Taniela Tupou, 19 Rob Simmons, 20 Ned Hanigan, 21 Pete Samu, 22 Joe Powell, 23 Reece Hodge.
Ierland: 15 Rob Kearney, 14 Keith Earls, 13 Robbie Henshaw, 12 Bundee Aki, 11 Jacob Stockdale, 10 Johnny Sexton, 9 Conor Murray, 8 Jack Conan, 7 Peter O’Mahony (kaptein), 6 Christiaan Stander, 5 James Ryan, 4 Devin Toner, 3 Tadhg Furlong, 2 Sean Cronin, 1 Jack McGrath. Bank: 16 Niall Scannell, 17 Cian Healy, 18 John Ryan, 19 Tadhg Beirne, 20 Jordi Murphy, 21 Kieran Marmion, 22 Ross Byrne, 23 Jordan Larmour.

Afskop: Saterdag 12:05
Skeidsregter: Pascal Gaüzère (Frankryk)
Assistentskeidsregters: Paul Williams (Nieu-Seeland), Marius van der Westhuizen (Suid-Afrika),
TV-skeidsregter: Ben Skeen (Nieu-Seeland)
Verwagte weer: Bewolk en koud.

All Blacks teen Frankryk, Dunedin. Afskop: Saterdag 09:35

 Frankryk was ongelukkig in die eerste twee toetse aan die verkeerde kant van skeidsregtersbeslissings wat hulle swaar geslaan het.

In die eerste toets op Edenpark was hulle voor toe ʼn belaglike geelkaart die All Blacks 12 punte in die tien strafminute laat aanteken het, en daarna het Frankryk gaan lê.

Verlede week in Wellington moes hulle 69 minute lank met net 14 man speel nadat die heelagter Benjamin Fall ʼn rooi kaart gekry het wat sedertdien as verkeerd deur Wêreldrugby beslis is en ter syde gestel is. Fall mag dus Saterdag weer speel.

In dié 69 minute het die Franse verras, gebied oorheers en ook die meeste besit gewen.

Maar 14 spelers keer moeilik aan 15 All Blacks en die uitslag van 26-13 was eintlik danksy ʼn verrassende goeie vertoning van die Franse.

Vir die rekord: in die tweede helfte het die 14 moeë Franse met 7-5 “gewen”.

Die All Blacks se voorspelers is nie naastenby van die 2015-gehalte toe hulle die Wêreldbeker gewen het nie. Hul agterlyn, selfs met, en miskien juis vanweë, die skuiwe lyk aan die ander kant steeds kookwater.

Frankryk is besig om onder die huidige afrigter Jacques Brunel weer as rugbykrag stem dik te maak, en behoort dit Saterdag weer te doen.

Om die All Blacks egter op hul tuisveld te troef, is seker te veel gevra. Dit sal nietemin ʼn interessante stryd wees, veral met die oog op die Rugbykampioenskap wat voorlê en in ag genome dat Steve Hansen, soos Rassie Erasmus en Ierland se Joe Schmidt, ook proefnemings maak.

Spanne ‒

Nieu-Seeland: 15 Ben Smith, 14 Waisake Naholo, 13 Jack Goodhue, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Damian McKenzie, 9 Aaron Smith, 8 Luke Whitelock, 7 Ardie Savea, 6 Shannon Frizell, 5 Scott Barrett, 4 Samuel Whitelock (kaptein), 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Liam Coltman, 17 Karl Tu’inukuafe, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Jackson Hemopo, 20 Matt Todd, 21 Thomas Perenara, 22 Richie Mo’unga, 23 Jordie Barrett.
Frankryk: 15 Benjamin Fall, 14 Teddy Thomas, 13 Remi Lamerat, 12 Wesley Fofana, 11 Gael Fickou, 10 Anthony Belleau, 9 Morgan Parra (kaptein), 8 Kevin Gourdon, 7 Kelian Galletier, 6 Mathieu Babillot, 5 Yoann Maestri, 4 Bernard le Roux, 3 Uini Atonio, 2 Camille Chat, 1 Dany Priso. Bank: 16 Adrien Pelissie, 17 Cyril Baille, 18 Cedate Gomes Sa, 19 Felix Lambey, 20 Alexandre Lapandry, 21 Baptiste Serin, 22 Jules Plisson, 23 Maxime Medard.

Afskop: 09:35
Skeidsregter:
 John Lacey (Ierland)
Assistentskeidsregters: Angus Gardner (Australië), Graham Cooper (Australië)
TV-skeidsregter: George Ayoub (Australië)
Verwagte weer: Koud. Die wedstryd word onderdak gespeel.

Argentinië teen Skotland, Resistencia. Afskop Saterdag 21:40 

Skotland het darem op hul toer van die Amerikas eers die baie swak Kanada reggesien, maar toe die eerste toprugbyland geword wat deur die VSA geklop is.

Saterdagaand kry hulle die kans om dié sakie teen die Poemas reg te stel, wat self ná drie neerlae teen die ietwat verswakte Wallis graag sal wil regruk.

Dit is die laaste wedstryd waar Daniel Hourcade die Argentynse afrigter is. Hy het die afgelope twee seisoene gesukkel om die beste uit die Poemas te haal, en dit sal verbaas as hulle skielik sal kan regruk teen die Skotte.

Argentinië het teen Wallis genoeg besit gekry wat nie gebruik is nie, hul dissipline was (soos altyd) swak, hulle het takties verkeerd gespeel en in die twee wedstryde nie na ʼn wenspan gelyk nie.

Niks laat ʼn mens dink dít het verander nie. Argentinië het die manier om te gaan lê as hulle plat is, en dít lyk na  ʼn sterk moontlikheid, selfs voor hul eie toeskouers.

Ander toetse ‒

In ander toetse Saterdag speel Japan tuis teen Georgië in wat ʼn baie interessante wedstryd tussen twee opkomende kragte behoort te wees; Kanada, wat vroeër vanjaar ʼn groot loesing van die VSA gekry het, moet dit dié keer probeer omdraai in ʼn sege, maar daar is nie veel kans daarvoor nie, sou mens dink, veral nadat die Skotte hulle twee weke gelede so afgeransel het; en Fidji en Tonga behoort vir die gewone opwinding tussen die eilandspanne van die Stille Oseaan te sorg.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.