Iere skok met weglating van Zebo

Die Iere doen alles in hul vermoë om spelers te keer om hul loopbane in ander lande voort te sit, maar hulle het klaarblyklik geen probleem daarmee om met ander lande se afrigters en spelers te ploeg nie.

Die Iere het die kraantjie vir die veelsydige agterspeler Simon Zebo toegedraai toe die afrigter, Joe Schmidt, sy groep van 38 spelers vir die komende jaareindtoetse teen die Springbokke (11 November) , Fidji (18 November) en Argentinië (25 November) aangewys het.

Zebo, 27, wat nege drieë in sy 35 toetse gedruk het, het Maandag aangekondig dat hy Munster aan die einde van die seisoen sal verlaat om vir Racing92 in Frankryk te gaan speel. Hoewel die Iere nie ʼn amptelike beleid oor die kies van spelers het wat oorsee speel nie, het Schmidt dit duidelik gemaak: bly in Ierland of jou loopbaan is daarmee heen.

Voor sy besluit om groener weivelde te gaan soek, was Zebo, wat heelagter of vleuel speel, een van die sekere keuses. Hy het vroeër vanjaar in al vyf Sesnasiestoetse gespeel, was in Junie op toer toe die Iere teen Japan en Amerika gespeel het, en was in 2016 in die Ierse span wat die All Blacks in Chicago geklop het.

Maar Schmidt probeer keer dat nog meer Ierse spelers dieselfde paadjie volg, ondanks die feit dat hy self na alle waarskynlikheid aan die einde van sy kontrak na Nieu-Seeland sal terugkeer.

Schmidt het ook nie geskroom om die Samoaanse senter Bundee Aki, wat in Nieu-Seeland gebore is, te kies nie. Akee het drie jaar gelede vir Connacht begin speel nadat hy deur die Samoaanse afrigter Pat Lam na Ierland gelok is.

Akee is een van vier nuwelinge in die groep. Die ander is Adam Byrne (Leinster) en Chris Farrell en Darren Sweetnam, wat albei vir Munster speel en wie se vaardighede deur Rassie Erasmus geslyp is.

Afgesien van Zebo, het Schmidt ook verras toe hy die ervare vleuels Andrew Trimble en Tommy Bowe weggelaat het.

Leinster se haker Sean Croning en die senter Luke Marshall is ook nie in die groep nie. Rob Herring en Stuart McCloskey vervang hulle onderskeidelik.

Die Ierse groep –
Voorspelers

Rory Best (kaptein), Jack Conan, Ultan Dillane, Tadhg Furlong, Cian Healy, Iain Henderson, Rob Herring, Dave Kilcoyne, Dan Leavy, Jack McGrath, Sean O’Brien, Tommy O’Donnell, Peter O’Mahony, Andrew Porter, Rhys Ruddock, James Ryan, John Ryan, CJ Stander, Devin Toner, James Tracy, Kieran Treadwell.

Agterspelers
Bundee Aki, Adam Byrne, Joey Carbery, Andrew Conway, Keith Earls, Chris Farrell, Robbie Henshaw, Dave Kearney, Rob Kearney, Ian Keatley, Kieran Marmion, Stuart McCloskey, Luke McGrath, Conor Murray, Johnny Sexton, Jacob Stockdale, Darren Sweetnam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.