Iere skud die All Blacks ná genadelose stryd

Die vreugde op en langs die veld kon nie groter gewees het nadat die All Blacks getroef is nie. (Foto: Twitter @IrishRugby)

Dít was nou toetsrugby soos in die ou dae: hard, genadeloos en sonder tierlantyntjies, en die ongetwyfelde hoogtepunt van vanjaar se vele toetse wat sedert Junie tussen die wêreld se voorste spanne gespeel is.

Ierland het die All Blacks se spasie Saterdag beperk, voor ingeklim, die All Blacks se nerwe afgeduik  en die Nieu-Seelanders drieloos gelaat in die stryd tussen die wêreld se twee beste spanne wat met 16-9 in Dublin gewen is.

Net ʼn enkele (die enigste) drie het die twee spanne geskei ná die wedstryd waar Ierland veral in die eerste helfte sodanig oorheers het dat hulle sou gevoel het die skale rustydvoorsprong van drie punte op 9-6 was nie genoeg beloning nie.

Die nerwe het letterlik gespat met die Iere wat, behalwe vir ʼn rukkie in die twee helfte, die beste span was. Hulle kon in die eerste helfte egter net eenvoudig nie deur die All Blacks se verdediging nie, met nege strafskoppe, sewe naby hul eie doellyn, wat deur Kieran Read se span afgestaan is.

Die telling het in die negende minuut van die tweede helfte 16-7 geword ná ʼn stukkie uitstaande spel deur die Iere se vleuel Jacob Stockdale toe hy ná ʼn agterlynbeweging vorentoe geskop en die gelukkige spring van die bal met ʼn skitterende drie afgesluit het.

Dit was Ierland se enigste punte ná rustyd, met die All Blacks se strafdoel hul enigste bydrae op die telbord in dié tydperk.

ʼn Paar waarnemings uit die wedstryd: Read het onder die kwaai druk drie ongehoorde hanteerfoute gemaak; die slot Brodie Retallick is in die algemene spel behoorlik vasgevat en kon nie sy bresse in die middelveld slaan nie; die All Black se skrum het swaar geleef en is ʼn keer of drie heeltemal stukkend gedruk; en vir die tweede agtereenvolgende wedstryd het Beauden Barrett drie punte met ʼn skepdoel bygedra.

Dít is vir hierdie All Blacks-span iets ongehoord nadat hulle dit nie wou doen in die Wellington-toets waar Suid-Afrika hulle teen die einde ook van die doellyn weggehou, van drieë weerhou en die wedstryd gewen het.

Is dit ʼn toegewing dat die All Blacks miskien nie so goed is as wat gedink is nie?

Puntemakers ‒

Ierland (9) 16: Drie: Jacob Stockdale. Doelskop: Johnny Sexton. Strafdoele: Sexton (3).
Nieu-Seeland (6) 9: Strafdoele: Beauden Barrett (2). Skepdoel: Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

wolla ·

Die wereldbeker gaan interessant wees. AB’s definitief nie vanjaar so dominant soos in vorige jare nie.

Johan ·

Die All Black kan nie altyd wen nie . Gee ander spanne ook maar n kans

Ellisras ·

Wys jou net. Ek sou nie ‘n sent verwed het op die Iere nie. En min Mense het die Iere ‘n kans gegun. Die Iere het fantasties gespeel.

What a joke! ·

Jare en jare van Suidelikke halfrond spelers en afrigters wat oorgaan na die Noordelikke halfrond en nou het hulle begin opvang! Glad nie nie n geval van die All Blacks of Suid Afrika of Australia wat so swak is nie meer n geval van hulle daarbo het beter geraak en ons in die Suide is net nie meer ligjare beter soos in die verlede teen die noorde nie! Wereldbeker gaan interesant en kompeterend wees….

Frans C ·

‘n Ruk gelede het ek reeds daarop gewys dat die All Blackspan begin krake toon en dat dit tyd vir hernuwing is.Waar ‘n mens in die Suidelike halfrond op ‘n diet van drieë gevoer is,is die vaste fasette soos goeie skrumwerk verwaarloos.

‘n Mens sien dikwels dat losvoorspelers soos vinke aan die skrum hang en agstemanne
soos meerkatte hul kop uit die skrum oplig om te sien wat aangaan.

Saterdag het die Iere gewys dat wedstryde steeds voorlangs gewen word en het hul die All Blacks stukkend geskrum en het ‘n vergete speler soos Stander gewys wat hy kan doen in ‘n pak waar alle spelers eers hul werk doen,alvorens hul begin rond hardloop.

Wat ‘n mens opval is dat Noordelike halfrondspanne oor die algemeen beter as Suidelike
halfrond spanne skrum.Hopelik sal suidelike halfrond afrigters die lesse ter harte neem.

Ierland moet na die vertoning ‘n goeie kans hê om die wêreldbeker vir die 1ste keer in hul geskiedenis te wen.Dat ‘Irish eyes are smiling’ is gewis.

Afrikaan ·

Dis duidelik dat hierdie spanne hulle beste spelers kies en daarom so kompeterend is. Hulle het ook kapteins wat ferm besluite neem en die game verstaan.

Smirre ·

Jy is reg. Tot en met 2000 was die AB’s en Bokke se wenpersentasie baie nader aan mekaar. Nou hardloop die AB’s weg, ander spanne tel ook op en Bokke sak terug na mid 60’s%. Dis duidelik dat die tendens meegaan met die ANC se belaglike reel waar nie die beste spanne gekies word nie en kleurkwotas dikteer dat substandaard spelers ingesluit word en selfs kaptein word. Die lande wat die beste span op meriete kies sal aanhou beter doen en selfs later die kwota konings in SA rugby verbysteek. 2024 is bok rugby op die ashoop net soos SA sokker.

Johan ·

Die All Blacks se ongelooflike geluk oor jare het nou uiteindelik begin uitgehardloop, punt.

alwyn burger ·

Die Wet van die Remmende Voorsprong werk met dodelike reëlmaat. Die AB se gloriedae is verby?

Frans C ·

Dit is slegs van toepassing as jy op jou louere begin rus en toelaat dat jy mededingers jou verbygaan.Die All Blacks het ‘n proses van vernuwing deur telkens nuwe personeel in hul strukture op te neem wat voortbou en uitbrei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.