Iere sukkel teen Poemas met die All Blacks wat wag

Dit help nie jy verdedig vir ʼn vale, staan jou man deeglik maar laat dan swak dissipline toe om jou wenpoging ongedaan te maak nie.

Dit was vir Argentinië weer die ou-ou storie toe hulle in die 59ste minuut nog met 17–15 teen die  ietwat sukkelende Ierland voor was en toe met die talle oortredings en voortgesette swak skrumwerk sonder hul drie voorste stutte die Iere se taak verlig het.

Ierland het met ʼn strafdoel en ʼn laat doel en nog ’n strafdoel verlig met ʼn wentelling van 28–17 van die veld gestap in die wipplank-wedstryd waar die spanne ses keer om die beurt voorgeloop het.

Soos die All Blacks teen Engeland het Ierland behoorlik teen die verwagting meer gesukkel as wat verwag is. Hul afrigter Joe Schmidt sal met die baie beserings wat sy spelers opgedoen het, bekommerd wees voor hulle die All Blacks aanstaande Saterdag in die stryd tussen die wêreld se twee beste spanne moet pak.

Daar moet darem heelwat krediet aan die Ierse pak gaan, wat veral in  die laaste kwart die botoon gevoer het nadat die Poemas vroeër in die los derduiwels was.

Ierland het egter in die lynstane gesukkel, en die agterlyn, trouens die hele span, het nooit op alle silinders gevuur nie.

Die Poemas het die Iere ook in die middelveld met hul kort- en binne-aangeë laat bontstaan

Nieu-Seeland sou ook gesien het dat die Iere onder die hoë bal sukkel en sal dit gebruik om ʼn einde te bring aan Ierland se rits van tien agtereenvolgende oorwinnings tuis.

ʼn Hartseerverhaal van die Poemas is egter dat die span, ondanks die onbeskikbaarheid van drie stutte, sukkel in die faset waar Argentinië vroeër die toon aangegee het, en al drie Ierland se drieë het van hul sterker skrum gekom.

Puntemakers ‒

Ierland (15) 28: Drieë: Kieran Marmion, Bundee Aki, Luke McGrath. Doelskoppe: Jonathan Sexton (3). Strafdoele: Sexton (2).
Argentinië (14) 17: Drie: Bautista Delguy. Strafdoele: Nicolas Sanchez (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.