Ierland breek wendroogte in Australië ná 39 jaar

Die Wallabies is goed dog nie onoorwinlik nie, en die Iere is nie verniet die nommer twee-span ter wêreld nie.

Dit is miskien die opsomming van dié twee se kragmeting in die tweede toets wat Saterdag in Melbourne gespeel is. Ierland het met 26-21 gewen nadat hulle teen die einde kwaai moes keer hoewel hulle verreweg die beste span was.

Dit was die eerste keer dat Ierland in 12 wedstryde sedert 1979 met die Wallabies in Australië afgereken het.

Die reeks staan nou op een-elk met die beslissende wedstryd wat volgende week in Sydney gespeel word.

Ierland het besit oorheers, die meeste hardloopwerk gedoen en skitterend verdedig. Tog het Australië, die enkele kere wat hulle aangeval het, drie keer teen twee gaan druk.

Dáárin moet iets gelees word.

Hul voorspelers het als gegee teen die Iere wat uit die staanspoor laat blyk het hulle wil hierdie toets nie ook soos die eerste laat glip nie.

Die Wallabies se agterlyn is skaflik, met Bernard Foley wat maar steeds nie as ʼn planmaker oortuig nie. Kurtley Beale, selfs al was die maklike drie wat hy in minder as 90 sekondes ná die wedstryd se aanvang gaan druk het die gevolg van swak Ierse konsentrasie, bly hul grootste angel saam met Israel Folau; en hul dissipline by veral die afbreekpunte was skokkend.

Ierland was in dié faset maklik baas, met CJ Stander wat weer in die middel van elke losskrum was; hulle het danksy die slim spel van Jonny Sexton die gebiedstryd heeltemal oorheers en minder verdedigingsfoute gemaak.

Nou hoe het die Wallabies dan so amper gewen? Hulle het die min kanse, insluitende Beale se vroeë drie, goed gebruik, saam ingeklim en die Ierse verdediging wanneer hulle darem, in Ierse gebied gekom het, deeglik met die optel-en-dryf taktiek beproef.

Vervolmaak hulle dit, gaan hulle oor twee maande in die Rugbykampioenskap ʼn gedugte span wees.

Puntemakers ‒
Australië: (14) 2:
Drieë: Kurtley Beale, strafdrie, Taniela Tupou. Doelskoppe: Bernard Foley (3). Ierland: (16) 26: Drieë: Andrew Conway, Tadhg Furlong. Doelskoppe: Jonathan Sexton (2). Strafdoele: Sexton (4).

Japan vs Italië

Japan het Saterdag die tweede toets teen Italië ná veral ʼn middelmatige eerste, met 22-25 verloor nadat hulle verlede week oortuigend met 34-17 gewen het

Italië was rustyd met 12-3 voor en het die voorsprong na 19-3 gerek voordat die Japanners skielik, in die veel beter tweede helfte vir hulle, vlamgevat het.

Twee verdoelde drieë binne ses minute het Japan op 17-19 tot net twee punte duskant Italië gevoer, maar ná twee strafdoele binne drie minute deur Italië losskakel Tommaso Allan was die drie van die Suid-Afrikaansgebore Kotaro Matsushima in die 79ste minuut vir Japan net ʼn troosprys.

Stille Oseaan-Nasiestoernooi

In die Stille Oseaan-Nasiestoernooi het albei wedstryde Saterdag volgens die ranglys van Wêreldrugby verloop toe Fidji (negende op die ranglys) teen Georgië (12de) met 37-15 gewen en Tonga (13de) met Samoa (16e) met 28-28 klaargespeel het.

♦  Vir Fidji, wat die toernooi die vierde keer ná mekaar gewen het en daarmee ook die vyfde keer sedert die eerste toernooi in 2006, was dit die dag van die skrumskakels.

Hul eerste twee drieë is deur die skrumskakel Henry Seniloli gedruk, maar Georgië was rustyd nog met 15-10  voor nadat hulle in die tweede kwart van 3-10 af teruggeveg het.

Toe het Fidji egter reggeruk. Daar was in die tweede helfte net een span op die veld en Fidji het 27 punte, insluitende vier drieë, by hul tien punte van die eerste helfte gevoeg.

Hulle het nege minute ná rustyd eers gelyk getrek ná ʼn drie van die senter Jale Vatuba en toe in die 62ste minuut voorgeloop toe die plaasvervanger-skrumskakel Frank Lomani gaan druk en Ratu Nasiganiyavi verdoel het.

Lomani het Fidji se vierde skrumskakeldrie en sy tweede in die 78ste minuut gedruk en Radradra Waqavatu net rie minute na die toer nog vyf punte bygevoeg.

♦  Tonga se dissipline was vrot, maar tog het hulle ondanks drie geel kaarte die wedstryd teen Samoa heeltemal oorheers.

Tonga was met rustyd al met 20-6 voor en het die Samoane maar min besit gegun om hul spel aan die gang te kry. Hul eie swak dissipline het egter aan die veel wakker Samoa die kans gegee om ondanks swak en min besit op die telbord met ʼn vleiende 18-28 te verloor.

Sonatane Takulua het 13 van Tonga se punte aangeteken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wim van der Berg ·

Dankie vir die uitwys van die vingerfout! Dis reggemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.