Ierland raap en skraap teen die Wallabies

CJ Stander – kry sy groot kans (Foto: Facebook CJ Stander)

Ierland se rugbyspan het die reeks teen Australië met 2-1 beklink toe hy Saterdag in Sydney die derde en laaste toets met 20-16 gewen het, maar dit was so hittete of sy oorwinning is deur die Franse skeidsregter, Pacal Gaüzère, versuur.

ʼn Beslissing aan die einde van die wedstryd wat na die TV-skeidsregter, Ben Skeen van Nieu-Seeland, verwys is, kon so maklik in die Wallabies se guns verloop het. As die tuisspan dán ’n drie gedruk het, was alles tevergeefs.

Die wedstryd is deur twee geelkaarte en ʼn rits strafskoppe bederf. Dit het albei afrigters, die spelers, ondersteuners en miljoene televisiekykers tuis gefrustreer.

Die Wallabies se afrigter, Michael Cheika, was in ʼn stadium só vies (dit gebeur darem baie) met een van Gaüzère se beslissings dat hy byna die tafelblad in die afrigtershokkie gebreek het.

Daar was ook ʼn hele paar vorentoe-aangeë wat oorgesien is, spelers van albei spanne het mekaar laat geloop, en by ʼn hele paar geleenthede het spelers die bal gespeel terwyl hulle van hul voete af was, maar baie kere het Gaüzère die spel laat aangaan.

Hy het ook nie baie goed met die spelers gekommunikeer nie, en dit het daartoe bygedra dat die kragmeting nooit behoorlik kon vlamvat nie.

Nietemin het die Iere, wat die eerste toets in Brisbane verloor het, maar toe teruggeveg het om die tweede en derde toetse te wen, dié reekssege by hul Sesnasies-kroon en Grand Slam-oorwinning gevoeg.

Hul opskietverdediging het die Wallabies nie in staat gestel om te veel en vinnig oor die voordeellyn te kom nie en hul rolmaalbewegings was doeltreffend.

En die Wallabies?

Wel, as Israel Folau en Kurtley Beale aan bande gelê word, is hul tande getrek.

Moet hulle egter nie in die Rugbykampioenskap buite rekening laat nie!

Puntemakers

Ierland 20 (12) – Drie: CJ Stander. Strafdoele: Jonny Sexton (5).

Australië 16 (9) – Drie: Marika Koroibete. Doelskop: Bernard Foley. Strafdoele: Bernard Foley (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

What a joke! ·

Swak skeidregter het die Wallabies die wedstryd gekos!…van iere wat keer op keer skeef ingooi by lynstaan,omkant speel en n geelkaart aan Folau wat belaglik was…
Iere het ok darem harde rugby gespeel en verdien om te wen maar as die skeidsregters net darem hul werk behoorlik doen sal rugby n herlewing sien!Hul verander die gang van die spel heeltemal met swak besluite…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.