Ierland wys Suid-Afrika die regte pad aan

Ronan O’Gara (Foto: Facebook – Irish Rugby Fans )

Ai, dat ons nou al lesse by die Iere moet leer.

Wanneer die Iere se rugbyafrigter, Joe Schmidt, oor sowat twee jaar ná die Wêreldbekertoernooi in Japan die tuig neerlê, hoef daar nie na ‘n opvolger gesoek te word, want die voormalige Ierse losskakel Ronan O’Gara staan voor in die ry – hy word grootgemaak; hy sal na alle waarskynlikeid soomloos kan oorneem.

O’Gara, wat 128 keer vir Ierland gespeel en op drie Britse en Ierse Leeus-toere was, het sedert sy uittrede in 2013 by Racing92 in Frankryk as skop- en vaardigheidsafrigter ingeval. Hy was sedert velede jaar die span se verdedigingsafrigter.

O’Gara is een van min spelers wat weet hoe om lojaliteit te spel, want in sy hele spelersloopbaan wat van 1997 tot in 2013 gestrek het, het hy net vir Munster gespeel, altesaam 240 keer.

Nou het die Crusaders, die mees suksesvolle span in Superrugby, die bloudruk van die All Blacks se sukses, hom aangekeer om die hoofafrigter, Scott Robertson, in aanstaande jaar se Superreeks by te staan nadat Leon MacDonald ander weivelde by Tasman, wat in Nieu-Seeland se provinsiale reeks speel, gaan soek het.

O’Gara sal vir een jaar sy gewig by die Crusaders ingooi, waar hy aan die fynere kunsies van All Black-rugby blootgestel sal word, waar hy in al die geheime van sukses sal deel.

Brad Moaar, die Crusaders se ander hulapfrigter, word net soos Roberston deur die Nieu-Seelandse Rugby gekontrakteer en sal aanbly, waar hy na die skakelpaar en senters sal omsien. Gara sal die res van die agterlyn onder hande neem en ook in beheer geplaas word as aanvals- en skopafrigter. Hy sal Roberston ook met verdediging bystaan.

Dit klink vreemd vir Nieu-Seelanders om na buitelanders te vry, maar Robertson het dit ook in 2013 gedoen toe hy Brad Holland, wat vir Munster gespeel het, na Nieu-Seeland gelok het. Holland is nou deur die Hurricanes opgeraap.

En in Suid-Afrika?

Allister Coetzee ploeter voort en sal na alle waarskynliheid op die ashoop beland noudat Rassie Erasmus, wat vandeesweek as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van afrigting ingeval het, gaan oorneem.

Maar Erasmus sal al die bagasie van die verlede erf, want hy sal moet toesien dat Saru se transformasie-ideale voorop gestel word.

Sy hande sal afgekap wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mary Down ·

Ek voel geaffronteerd deur die eerste sin van hierdie berig. Wat word daarmee bedoel. Ek woon al 2 dekades in Ierland en kan onomwonde sê dat Suid-Afrikaners BAIE by die Iere kan leer – nie net wat rugby aanbetref nie. Om nie nydig, grootpraterig of arrogant te wees nie, is maar net ń paar om op te noem. Die skrywer van die berig is oningelig. Die Iere hoef veral nie vir Suid-Afrika terug te staan nie. Dit laat my lag. Please don’t show your ignorance through your blubbering!!

Henry ·

Die laaste gedeelte van u kommentaar en veral die slotsin, bevestig dat die skrywer van hierdie berig in die kol is met sy eerste sin.
:-)

Arie ·

Ek wens hulle wil politiek uit sport hou, ek was op ‘n stadium elke Saterdag by Loftus ons het seisoen kaartjies gehad, en nou wil ek nie meer rugby kyk nie. Ons rugby is ‘n politieke gemors van sarfu af tot by die unies

Eish ·

Tensy hy ten spyte van dit alles, tog n sukses maak van die boer, berg en takbokke.
Dan sal ons darem n ander deuntjie sing nè!

Herman Goosen ·

Ek dink Rassie maak ‘n loopbaanfout om hom weer met SA Rugby te vereenselwig. Sy briljante talent gaan bloot gemors word op Polities korrekte regeringsbeleid en ek dink gaan nie die nodige impak op Springbok rugby sit wat benodig word nie. Ek is nogal verbaas dat hy besluit het om terug te kom. Het seker ‘n baie goeie aanbod gekry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.