Ierse flank O’Mahony is kaptein teen die All Blacks

Die Ierse flank Peter O’Mahony sal die Britse en Ierse Leeus Saterdag in die eerste toets teen die All Blacks in Auckland aanvoer.

Daar was nie plek vir die toerkaptein Sam Warburton in die beginspan nie en hy is trouens gelukkig om op die bank te wees.

Die afrigter, Warren Gatland, het met ʼn verrassing of twee vorendag gekom. Die uitblinkerslot tot dusver op die toer, Maro Itoje, is op die bank terwyl die Walliese veteraan Alun Wyn Jones saam met George Kruis die slotte is.

Op heelagter het Liam Williams die regmerkie gekry met sy Walliese maat Leigh Halfpenny, wat as die gunsteling beskou is, wat op die bank sit.

Daar is geen plek vir die Suid-Afrikaanse losvoorspeler CJ Stander nie, en O’Mahony, sy Ierse spanmaat Sean O’Brien en Taulupe Faletau wat as eenheid in die oorwinning teen die Crusaders beïndruk het, is saam as lostrio gekies.

Op losskakel kry Owen Farrell sy kans nadat hy vir Engeland moes uitskuif senter toe om vir George Ford in die toetse plek te maak. Farrell is bo Ierland se Jonny Sexton gekies.

Met George North wat tot dusver op die toer sukkel om op dreef te kom, was die keuse van Elliot Daly as linkervleuel te wagte.

Britse en Ierse Leeus –

Liam Williams, Anthony Watson, Jonathan Davies, Ben Te’o, Elliot Daly, Owen Farrell, Conor Murray, Toby Faletau, Sean O’Brien, Peter O’Mahony (kapt.), George Kruis, Alun-Wyn Jones, Tadgh Furlong, Jamie George, Mako Vunipola. Bank:  Ken Owens, Jack McGrath, Kyle Sinckler, Maro Itoje, Sam Warburton, Rhys Webb, Jonny Sexton, Leigh Halfpenny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.