Ierse rugbylegende sterf

Willie Duggan (Foto: YouTube)

Een van die grootste legendes van Ierse rugby is Maandag in Dunmore, Ierland, vermoedelik aan ʼn hartaanval oorlede.

Die seningtaaie Willie Duggan is allerweë as die beste agsteman in die Noordelike Halfrond beskou toe hy van 1975 tot 1984 in 41 toetse vir Ierland en vier vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het.

Slegs twee daarvan was teen die Springbokke, toe Ierland Suid-Afrika in 1981 besoek het.

Hy het Suid-Afrika ook die volgende jaar besoek as ’n lid van die Vyfnasiesspan wat drie wedstryde op toer gespeel het, onder meer teen ’n SA Presidentsvyftiental met die inwyding van die herboude Ellispark.

Die hardekwas Duggan het in 1977 om die verkeerde rede geskiedenis gemaak, toe hy en die Wallieser Geoff Wheel die eerste spelers was om in ʼn Sesnasieswedstryd van die veld gestuur te word.

Ongeag sy legendariese uithouvermoë, was hy bekend as ʼn strawwe roker, en word hy onder meer onthou vir ʼn voorval waar hy met ʼn sigaret opgedraf, en dit in ʼn oorblufte skeidsregter se hand gestop het.

Gevra wat hy van die hedendaagse spel dink, het hy glo geantwoord dat veral die lang rustye hom geval, “omdat ʼn mens darem ʼn hele paar sigarette in dié tyd sou kon rook”.

Duggan (67) het ʼn ligtewinkel in Dunmore in die graafskap Kilkenny bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.