Ierse vlae wapper op Murrayfield

Ierland het vir Skotland met 22 – 7 op Murrayfield geklop. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Die Springbokke gaan weliswaar nog nie slapelose nagte hê nie, maar hulle kan beslis nie vir Ierland of vir Skotland in die komende Wêreldbeker-toernooi onderskat nie.

Die drie spanne is immers in dieselfde groep vir die rugbyskouspel in Frankryk en dit beloof om titaniese tweestryde te wees.

Ierland en Skotland het juis vandag gewys waartoe hulle in staat is toe hulle swaarde in ʼn Sesnasies-wedstryd op Murrayfield gekruis het.

Die Ierse droom om die toernooi onoorwonne af te sluit is steeds lewendig nadat hulle die tuisspan – danksy ʼn sterk tweedehelftepoging – met 22–7 geklop het.

Die eerste helfte het ʼn stewige armdruksessie opgelewer en nie een van die twee spanne wou bes gee nie. Die besoekers moes egter ʼn sopie Guinness-bier (of dalk iets sterkers) in hul waterbottels tydens rustyd gekry het, want hulle het in die laaste 40 minute na ʼn hoër rat oorgeskakel.

Mack Hansen, James Lowe en Jack Conan het die Iere se drieë gedruk, terwyl Johnny Sexton sewe punte met die skopskoen aangeteken het.

“Ons het geweet dat dit waarskynlik die taaiste wedstryd van die reeks sou wees. Die Skotte het alles in die stryd gewerp en dit was ʼn baie goeie toets,” het Hansen gesê toe hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Volgens die agterspeler hou die Ierse span daarvan as hy met sy rug teen die muur is – dit beteken dat die spelers ʼn geleentheid kry om terug te baklei.

“Ons het rustyd vir mekaar gesê dat dit een van die redes is waarom ons rugby speel – ons verwelkom hierdie tipe situasies [waar die span na ʼn hoër rat moet oorskakel]. Ons het geweet dat ons die krane in die tweede helfte sou kon oopdraai.”

Daar kan egter nie nou al in Dublin se strate feesgevier word nie. Sexton se span sal met Engeland moet afreken om te verseker dat hulle nie deur die vlieënde Franse Hane op die punteleer ingehaal word nie.

Op hul beurt het Skotland veral goed in die eerste helfte gespeel, maar hulle het hul voet van die versnelpedaal in die tweede helfte gehaal. En jy kan nie bekostig om hierdie Ierse span enige geleenthede op die aanval te gee nie; hulle sal jou op die telbord straf.

  • Komende bepalings (18 Maart):

14:30: Skotland teen Italië

16:45: Frankryk teen Wallis

19: 00: Ierland teen Engeland

  • Sesnasies-punteleer:
  1. Ierland: 19 punte
  2. Frankryk: 15 punte
  3. Skotland: 10 punte
  4. Engeland: 10 punte
  5. Wallis: 5 punte
  6. Italië: 1 punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.