Immergroen Pienaar begin teen Bulle

Ruan Pienaar in aksie. (Foto: GB Jordaan.)

Hy mag dalk reeds in Maart sy 39ste verjaardag gevier het, maar die Blou Bulle sal steeds vir die Cheetahs se Ruan Pienaar moet lig loop – veral wanneer ʼn plek in die Curriebeker-eindstryd op die spel is.

Die voormalige Springbok-speler het verlede week se groepfasewedstryd op Loftus Versfeld misgeloop, maar hy sal in Bloemfontein oorgehaal wees om die Vrystaters se pad na ʼn moontlike eindstryd so glad as moontlik te maak.

Hy sal die no. 10-trui in die plek van die beseerde Siya Masuku dra.

Die tuisspan spog ook met ʼn bitter gevaarlike agterste driehoek in Tapiwa Mafura, Daniel Kasende en Cohen Jasper. Wanneer dié drie eers vlamvat, word hulle baie moeilik gestuit – soos wat die Bulle verlede week agtergekom het.

Hawies Fourie (afrigter) meen dat die tuisspan nou meer gedissiplineerde spel moet opdis as hulle vir die tweede naweek op ʼn streep met die Pretorianers wil afreken.

“Ons het verlede week hopeloos te veel strafskoppe afgestaan en ons moes bontstaan om ons doellyn te verdedig. Ons kon dit egter regkry en dit het vir ons baie selfvertroue gegee,” het hy gesê.

Fourie meen egter dat die Bulle planne beraam het om deur sy span se verdedingslinie te bars.

“Saterdag is egter ʼn nuwe wedstryd en ons almal begin op ʼn skoon bladsy. Ons het vandeesweek geoefen om dinge ʼn bietjie vinniger te maak en ons wil uit die staanspoor die Bulle onder druk plaas.”

Die wedstryd begin môre om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Cheetahs: Tapiwa Mafura (heelagter), Daniel Kasende (regtervleuel), David Brits (buitesenter), Reinhardt Fortuin (binnesenter), Cohen Jasper (linkervleuel), Ruan Pienaar (losskakel), Rewan Kruger (skrumskakel), Friedle Olivier (agtsteman), Siba Qoma (flank), Gideon van der Merwe (flank), Victor Sekekete (kaptein en slot), Rynier Bernardo (slot), Conraad van Vuuren (stut), Marnus van der Merwe (haker) en Schalk Ferreira (stut). Plaasvervangers: Louis van der Westhuizen, Alulutho Tshakweni, Hencus van Wyk, Jeandré Rudolph, George Cronjé, Daniel Maartens, Evardi Boshoff en Robert Ebersohn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.