Impi enigste nuweling vir Dubai se Blitsbokke

Die nuweling Impi Visser en die manne wat weer terug in die span is, Muller du Plessis, Branco du Preez, Kyle Brown (Foto: SA Rugby)

Die sterk voormalige senter van Tukkies en die 2017-Varsitybeker se Droomspan, Impi Visser, is ingesluit in die Blitsbokke se span wat aanstaande naweek in Dubai in Wêreldrugby se eerste toernooi  van 2018/’19 speel.

Visser se insluiting en dié van die voormalige kaptein van die Blitsbokke, Kyle Brown (65 toernooie) en die amper ewe ervare Branco du Preez (61 toernooie) – ná beserings hulle uit die Statebondspele in San Francisco gehou het – is die vernaamste nuus van die span se bekendmaking.

Visser het in 2016 en 2017 vir die SA Akademiespan gespeel en verlede jaar ʼn ernstige enkelbesering opgedoen. Dit maak dié eer vir hom nog méér spesiaal, sê hy.

Die jong Muller du Plessis, wat steeds onder 19 is en verlede jaar nog op skool was, het reeds vier toernooie en 20 wedstryde vir die Blitsbokke agter die rug het en is ook weer in die span.

Dit sal Brown se 66ste toernooi wees – twee duskant die SA rekord van Frankie Horn (68 toernooie). Brando du Preez het al in 61 toernooie gespeel.

Roscoe Specman, wat hom soos Tim Agaba, Kwagga Smith, Seabelo Senatla en Ruan Nel voortaan op vyftienman-rugby sal toespits, sal in die toernooi en ʼn week later in Kaapstad nog vir die Blitsbokke speel voordat hy by die Bulls aansluit.

Zain Davids, Ryan Oosthuizen, Werner Kok, Justin Geduld, Dewald Human en Siviwe Soyizwapi is gereelde lede van die span, en Dewald Human, wat die span in Singapoer net voor die Statebondspele aangevoer het, is die 12de lid.

Selvyn Davids is die amptelike plaasvervanger en sal slegs speelkans kry as een van die gekose 12-tal nie verder op die toernooi kan speel nie.

Stedman Gans, Cecil Afrika en Heino Bezuidenhout is beseer en nie vir die span oorweeg nie.

♦ Suid-Afrika het verlede jaar die Dubai-toernooi gewen en ook die reekstitel behou. Ses van die huidige groep het in daardie Dubai-toernooi gespeel: Philip Snyman, wat vir die derde jaar die span sal aanvoer, Werner Kok, Brown, Du Preez, Specman en Justin Geduld.

♦  Die Blitsbokke speel aanstaande Vrydag in die groepfase teen Zimbabwe (08:52), Samoa (12:36) en Argentinië (17:53).

Die span ‒
1.    Impi Visser (eerste toernooi)
2.   Philip Snyman, kaptein (54 toernooie; 248 wedstryde, 346 punte, 63 drieë, 16 doelskoppe)
3.   Ryan Oosthuizen (10 toernooie; 45 wedstryde, 55 punte, 11 drieë)
4.   Zain Davids (13 toernooie; 60 wedstryde, 45 punte, 9 drieë)
5.   Werner Kok (37 toernooie; 184 wedstryde, 420 punte, 84 drieë)
6.   Kyle Brown (65 toernooie; 327 wedstryde, 420 punte, 84 drieë)
7.   Branco du Preez (61 toernooie; 305 wedstryde, 1162 punte, 82 drieë)
8.   Rosko Specman (26 toernooie; 138 wedstryde, 343 punte, 63 drieë, 14 doelskoppe)
9.   Justin Geduld (36 toernooie; 186 wedstryde, 833 punte, 86 drieë)
10. Dewald Human (4 toernooie; 18 wedstryde, 66 punte, 8 drieë, 13 doelskoppe)
11.  Siviwe Soyizwapi (18 toernooie; 89 wedstryde, 280 punte, 56 drieë)
12. Muller du Plessis (4 toernooie; 20 wedstryde, 55 punte, 11 drieë)
13. Selvyn Davids* (5 toernooie; 24 wedstryde, 97 punte, 13 drieë, 16 doelskoppe)

 

*Plaasvervanger

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sies maroela ·

Die vrouens is ook reeds aangekondig. Julle kan hulle gerus ook bloodstelling gee. Baie geluk aan almal en sterte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.