In hoeveel toetse sal Willie le Roux speel?

Damian Willemse – wanneer sal hy moet speel?. (Foto Twitter @DamianGaza10)

Hoe en waar Damian Willemse sy kans as heelagter vir die Springbokke sal kry, is nie heeltemal duidelik nie.

Daar is onsekerheid oor wanneer die nommer een-heelagter van die Springbokke, Willie le Roux, vir die nasionale span sal kan speel en wanneer hy weer by sy Londense klubspan, Wasps, moet aanmeld.

Terwyl Rassie Erasmus-hulle klaarblyklik rustig is dat Le Roux in al ses die Springbokke se wedstryde van die Rugbykampioenskap mag speel en bloot sê Le Roux, Faf de Klerk en Francois Louw sal in die Rugbykampioenskap speel, blyk dit by monde van Wasps se direkteur van afrigting, Dai Young, dat die klub Le Roux net vir Wasps se eerste drie wedstryde sal vrystel.

Wasps se derde wedstryd is op 16 September, dieselfde dag waarop die Springbokke in Nieu-Seeland teen die All Blacks speel.

Sal Wasps daarmee verlief neem dat Le Roux ná die lang vlug uit die Ooste eers Dinsdag (op die vroegste) by hulle aansluit vir Wasps se volgende wedstryd (teen die Sale Sharks) op Vrydagaand 22 September?

Dit lyk dus of Le Roux net in die eerste twee toetse teen Argentinië en dan in Australië op 9 September teen die Wallabies beskikbaar sal wees.

Young het ook aangedui dat Wasps moontlik vir Le Roux vir een van die Bokke se wedstryde op die jaareindtoer sal afgee.

♦ Intussen het Erasmus Maandag op ʼn mediavergadering bloot gesê al drie Suid-Afrika se oorsese spelers sal vir die Rugbykampioenskap beskikbaar wees.

Vir al ses die wedstryde?

En wie sal vir le Roux instaan in daardie twee of waarskynlik drie toetse waarin hy dalk nie sal kan speel nie?

Hoe en waar Damian Willemse sy kans as heelagter vir die Springbokke sal kry, is nie heeltemal duidelik nie.

Die jong Junior Springbok kan tog nie sommer uit die bloute, en boonop in ʼn vreemde posisie, teen twee van die wêreld se heel beste spanne losgelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Nel ·

Dit is so hartseer dat van ons beste rugbyspelers oorsee moet gaan speel en dan vir ons Land “verlore” is. Reg, ons baie en goeie spelers wat nog hier is, maar hulle sal 2de en of 3de keuses wees as al ons oorsese spelers “tuis” was. Wyle Dr Craven het dit seker voorsien, dit is hoekom hy so gekant was teen beroepsrugby. Mag ons rugby egter bloei en die Springbokke weer die gevreesde span word wat hulle was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.