In hoeverre kan borge transformasie afdwing?

rugbyballDit raak `n belangrike vraag in hoeverre borge transformasie in Suid-Afrikaanse rugby sal kan afdwing noudat Absa oënskynlik tou opgegooi het in sy pogings om dit reg te kry.

Die onttrekking van dié bankgroep en die motorvervaardiger BMW as sleutelborge van die SA Rugbyunie (Saru) word in die media grootliks toegeskryf aan wat “die gebrek aan transformasie” in Suid-Afrikaanse rugby genoem word.

Absa se hoofamptenaar, Maria Ramos, het dit vyf jaar gelede aan die groot klok gehang dat, soos sy dit op Engels gestel het: “Wie die fluitspeler betaal, sal die deuntjie van transformasie in rugby bepaal”.

Dit het destyds sterk reaksie van onder meer AfriForum uitgelok, en daar is nie weer van haar in dié opsig gehoor nie.

Nou, vyf jaar later, het Absa sy 30 jaar lange rol as borg van die Curriebekerreeks (eers as Santambank en later Bankfin) en die meer onlangse een as truiborg van die Springbokke laat vaar.

Beteken dit die fluitspeler het toe nie sy (haar) sin gekry nie? Of is dit dalk `n geval dat haar uitspraak teenproduktief was ten opsigte van die bemarkingsdoelwit van die borgskap?

Dinsdag, met die bekendstelling van Saru se akademiestelsel in die weelde van Sandton, sê die adjunkpresident van die organisasie, Mark Alexander, as rugby as `n sport in Suid-Afrika wil oorleef, moet hy sy visier op die meerderheid van die bevolking rig. Die sinspeling is daar dat transformasie te stadig geskied.

Daar is egter `n tragiese keersy van die situasie.

Oos-Kaapland, wat die vlagskip van rugbytransformasie moet wees, is `n sinkende skip.

Dis die natuurlike omgewing om te bewys dat transformasie kan slaag. Die oorgrote meerderheid rugbyspelers is swart. Swart rugby is in `n tradisie ouer as `n eeu gewortel.

Waar wil `n mens (en die transformasiejagtende borge) `n beter vertrekpunt hê? Dis die logiese vertrekpunt van transformasie.

Maar nee, die OP se president, Cheeky Watson, moet oorsee om borgskappe gaan soebat – en daar het nog niks positiefs van gekom nie. Hy sit steeds sonder `n borg.

Die bladmusiek is daar, maar niemand wil die fluitspeler betaal nie.

Waar is die profete van transformasie as dit by borgskappe vir die Oostelike Provinsie en die Grens kom? Hier is mos nou `n gulde geleentheid vir borge soos Absa.

In `n uiters mededingende bemarkingsomgewing is die keuse van borgskappe tot `n fyn wetenskap ontwikkel en gaan dit allermins om getalle – veel eerder om die besteebare inkomste en die profiel van die teikenmark – wanneer daaroor besluit word.

Is dít dalk wat borge uit Oos-Kaapland hou?

Om ideologies rassekwotas op die sport af te dwing, kan dalk die kleursamestelling van die spanne verander, maar sonder `n natuurlike ontwikkeling van die spelerspoel is dit kortsigtig en sal dit die spel op die lang duur knou omdat die gehalte sonder `n behoorlike onderbou onteenseglik sal kwyn.

Besef minstens dit: diegene wat transformasie die sterkste bepleit – en as dit daarop neerkom, dalk ook diegene wat die sterkste daarteen gekant is – het `n ander sakelys as die bevordering van rugby en die volhoubaarheid van die spel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gielie Olivier ·

Ek het die week na hoogtepunte vanuit die 1991 wêreldbeker gekyk en dit was verrassend om te sien hoe sterk Zimbabwe se span was! Hulle het totaal getransformeer en nou vra ek ma net waar was hulle in die daaropvolgende Wêreldbekers? Hoekom het hulle nie ten minste vanjaar net deelgeneem nie??????????

Weskaper ·

Dieselfde het met Namibia gebeur, hoe was die ou Suidwes-Afrika en hoe is Namibia vandag.

MJL ·

Borge wil (advertensie) waarde vir hulle geld hê. Hulle is nie dom nie en sien waarheen die rugby oppad is. Dit is makliker om nou borgskappe te onttrek en transformasie, of dan die gebrek daaraan, voor te hou as wat hulle later moet verduidelik hoekom hulle nie meer die “getransformeerde” rugby wil borg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.