In rugby moet ʼn slot mos die sleutels vashou

André May – gaan hy in die voetspore van invloedryke slotte volg? (Foto: Facebook)

Vergeet van die losskakels, stutte en hakers; in rugbytaal sê hulle die slotte hou die sleutel.

Dink maar terug aan die invloed en rolle wat prof. Johan Claasen, dr. Louis  Luyt, prof. John Williams en André Markgraaff op en van die veld in Suid-Afrikaanse rugby gespeel het.

Van hulle was oud-Springbokafrigters, oud-rugbybase en oud-kapteins, suksesvolle sakemanne, diegene wat weet waaroor rugby op alle vlakke gegaan het.

Dink maar aan Wallaby-kapteins soos John Thornett en John Eales, aan die Engelse bulhond Martin Johnson, aan Colin Meads en Billy Beaumont, die oud-Engelse en Britse en Ierse Leeus-kaptein en huidige voorsitter van Wêreldrugby.

Dink ook maar terug aan Frik du Preez, Kevin de Klerk, Moaner van Heerden, Bakkies Botha en Victor Matfield, aan Tiny Naude en aan Brian Irvine (die destydse president van die Natalse Rugbyunie en ook Junior Springbokkaptein), aan die platjie Toy Dannhauser en aan prof. Fritz Eloff,  wat stut, agtsteman en slot vir Noord-Transvaal gespeel het.

Breek ʼn lansie vir prof. Eloff, wat 26 jaar lank president van Noord-Transvaalse Rugbyunie was, ook vir 30 jaar in die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gedien en 27 jaar op die uitvoerende bestuur van die Internasionale Rugbyraad was.

Hy was Dok Danie Craven se regterhand, die weerligafleier in die onstuimige dae. Hy was die baken van Noord-Transvaalse rugby, die sout van die rugbyaarde.

Die oud-Wes-Transvaalse slot André May kan op 6 April in hul voetspore volg wanneer hy die huidige president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Mark Alexander teenstaan.

Dis ʼn historiese dag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die dag toe Jan van Riebeeck in 1652 voet aan wal in die Kaap gesit het. Dalk kan dit ook ʼn historiese dag vir rugby word, want diegene in die wandelgange sê daar is iets aan die broei; die gety is dalk besig om te swaai.

May, ʼn advokaat van beroep, het 75 keer vir die Luiperds gespeel en is sedert 2010 voorsitter van die Luiperds.

As voormalige voorsitter van Potch-Dorp-rugbyklub is hy dus deeglik bewus en vertroud met die dorings en slaggate wat van die hoogste tot op die laagste vlak rugby se pad besaai.

Hy wil die Bokke weer die wêreldkrag in rugby maak, hy wil rugby op alle vlakke bevorder.

Net soos in sy speeldae is hy reguit, eerlik en deursigtig.

Dis dalk die regte tyd vir ʼn slot om weer die sleutels vas te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cjan ·

Ek hoop van ganse hart dat Mnr May die pos sal kan oorneem. Dat die ander Unies vir hom sal stem om ons Bokrugby weer op die pad te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.