In rugby val jy nie rond met jou beste speler nie

Jordie Barrett (regs), aen sy broer Beauden. Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Wanneer jy ʼn rugbyspan kies, kies jy elke speler in sy beste posisie.

Ons praat nou nie hier van posisies wat byna ingeweef is met mekaar nie, soos heelagters wat ewe maklik vleuel toe kan skuif, soos ʼn Cheslin Kolbe nie, of losskakels wat ewe maklik binnesenter kan speel nie, soos ʼn Hennie le Roux, Henry Honiball of Braam van Straaten, of slotte wat met groot welslae flank toe kan skuif, soos ʼn Pieter-Steph du Toit nie.

Ons praat hier van twee posisies wat hemelsbreed verskil, waar jy ander vaardighede moet hê, waar jou swakpunte uitgebuit kan word.

Dit is die les wat die All Black-keurders geleer het deur Beauden Barrett heelagter toe te skuif.

Hulle wou hom in die span gehad het, kom wat wil en dis hoekom hulle hom verlede jaar heelagter laat speel het.

Barrett, wat twee keer (as losskakel) as Wêreldrugby se Speler van die jaar aangewys, het verlede jaar laas teen Tonga losskakel in ʼn toetswedstryd gespeel voordat hy Sondag in Auckland in Nieu-Seeland se Aotearora-reeks weer die planmaker op no. 10 vir die Blues teen die Chiefs was.

As Barrett weer heeltyds losskakel gaan speel, sal daar ʼn driestryd tussen sy jonger broer Jordie (wat myns insiens ʼn beter heelagter as Beauden is), Will Jordan van die Crusaders of Damian McKenzie van die Chiefs as heelagter wees.

Vergeet daarvan dat Richie Mo’unga van die Crusaders beter as Beauden op losskakel is.

Ja, hy is meer betroubaar as stelskopper, maar dit is waar dit eindig.

Hoeveel keer in die verlede het keurders nie al dieselfde fout begaan nie?

Dink maar daaraan toe Gerrie Sonnekus (agtsteman) skrumskakel moes speel. Die All Blacks het hul wedstryd-wenner Christian Cullen van heelagter na senter geskuif en dit was ʼn misoes.

Dink maar daaraan hoe daar klimtol met die begaafde Dawie Snyman, Tonie Roux, Brent Russell, Ruan Pienaar, Frans Steyn en Francois Hougaard gespeel is.

Kies ʼn speler in sy beste posisie in die opdrafspan en gebruik die veelsydige speler op die plaasvervangersbank.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.