In rugby was staanplekke die beste sitplekke

Nuweland – toe rugby-kyk nog spesiaal was. Argieffoto.

ʼn Rugbystadion se gewildste sitplekke was dikwels sy staanplekke.

Dink maar aan Nuweland, waar staanplekke, al was dit soms in die koue en reën, amperse erestatus beklee het.

Net soos Hannon wondere op televisie vermag, het Nuweland deur die jare soms ook ʼn verjongingskuur ondergaan, maar die staanplekke het bly staan.

Nou is dit nie meer nodig nie, want daar kon nie meer bygehou word met die opknappingswerk nie. In die Kaapstad-stadion waarheen die Westelike Provinsie aanstaande jaar verhuis, is daar geen staanplekke nie.

Weg, vir altyd weg.

Selfs op Loftus Versfeld, ja die ou Loftus, was daar ʼn hele paar rye staanplekke agter die noordelike en suidelike pale. Stowwerige staanplekke met ʼn paar ysterpale om jou te ondersteun. Dit was baie gewild, veral wanneer toerspanne teen die Springbokke gespeel het en die WP een keer ʼn jaar teen die Ligbloues gespeel het.

Dit was sekerlik omdat die staanplekke so goedkoop was en soms by jou kosbare seisoenkaartjie se prys ingesluit was.

Ook omdat dit ʼn dag lange uitstapppie was, want die stadion se hekke het skuins ná tienuur oopgemaak en die staanplekke was altyd eerste gevul.

Bygesê, daar is baie min op Loftus gestaan, hoewel die openbare aankondiger kort-kort die toeskouers moes maan om op te staan sodat daar meer toeskouers soos sardientjies ingepak kon word. Maar net wanneer hy die mikrofoon afgeskakel het, is daar luidkeels geskree: “Sit, sit!” en almal het gaan sit.

As kind het jou pa die aand voor die tyd tamatiekissies gebruik om jou kosblik af te rond, waarin daar allerhande eetgoed, nartjies en ʼn plastiekbottel of twee aangemaakte Oros ingepak was vir die lang gewag.

Namate die kissies leeg geraak het, het dit gedien om jou lengte te gee.

Maar gewoonlik het die tjokkers al hoe nader aan die voorkant beweeg totdat jy later oor die heining getel is om langs die veld te sit en rugby te kyk.

Die noordelike kant was gewilder as die suidelike kant, want dit is waar Tommy Bedford byna reg voor jou oë ʼn drie teen die Wallabies gedruk het, waar Frik du Preez vir die Britse Leeu-heelagter Tom Kiernan uit die pad geloop het op pad doellyn toe, waar Dawie de Villiers die bal onder die neuse van die All Blacks toegeval het, waar Joggie Jansen vir Wayne Cottrell te pletter geloop het.

Drome, drome, drome.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
david

Ek onthou weer vir Ellis Park met daardie groot staanplekke aan die Ooste kant en ja ook die destyds bekende Glaskas, neffens die hoofpawiljoen.
En, onvergeetlik ,die dag toe 90 000 mense die toets teen die Britse Leeus aanskou het…en daardie laaste skop wat Jack vd Scyff mis geskop het….!
En hoe dit soos ure gevoel het om by die hekke uit te kom….
En die aand voor ‘n toets die kampery op die sypaadjies …net om ‘n STAANPLEK te kon kry..!
Heerlike tye daardie…

Adam Adriaan

Daar die dag het ek op my pa se skouers gesit sodat ek ook kon sie wat op die veld aangaan. Ellispark, ek was nog baie klyn.

Raadslid

Ek onthou…..

Frans

Kon net ‘n staanplek op Ellispark kry vir 1960 toets teen die All Blacks. 75 000 mense het die stadion
vol gepak. Bokke 13-0. NZ joernaliste het Bok voorspelers as stadig en onfiks beskou en net om hul verkeerd te bewys ,vou die Springbokvoorry die All Black voorry soos spykers om in die 1ste skrum.

Ruan

Die goeie ou dae. Maak my hart rerig seer om te kyk wat van rugby geword het.