Inklimspel verras toe Park vir Bobbies opdreun

Vrydag se kragmeting tussen die Port Elizabethse spanne Park en Polisie in die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagreeks het verras met die inklimspel wat gelewer is, en diegene wat dit dopgehou het, sal dit nog lank onthou.

Só sê Marius van der Walt, ʼn gewese hulpafrigter van die Bobbies en nou die hoofafrigter van die Londtparkse span.

Park het die wedstryd op Polisie, ʼn gewese OP-kampioen wat die bond verlede jaar in die internasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig het, se Kemsleypark met 17-10 gewen.

Van der Walt sê dit was ʼn vinnige en klipharde wedstryd wat die toeskouers tot die blaas van die eindfluitjie op die punte van hul stoele gehou het.

“Park se verdediging was van hoogstaande gehalte, en het die wedstryd vir die span beklink,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Die bydrae wat die ervare spelers tot die besluitneming en die kalmte op die veld gelewer het, is van onskatbare waarde.

“Park se agterlyn het op die aanval sowel as die verdediging uitstekend as ʼn eenheid gefunksioneer. Dit het gelei tot ʼn skitterende drie en later ʼn baie goeie skepskop deur Handré Snetler.”

Van der Walt sê die haker Lumko Mbane en die lostrio Jaco Swanepoel, Quinton Haasbroek, Francios van der Walt en later Ryno Haasbroek was baie goed in ʼn span waar dit moeilik is om uitblinkers uit te sonder.

“In die agterlyn het die skakelpaar Quinton Koleske en Snetler puik besluitneming aan die dag gelê. Die hardlooplyne van Park se buite-agterspelers was van hoogstaande gehalte.”

Snetler het nege van die wenspan se punte met twee strafdoele en genoemde skepdoel behaal, Ofentse Bokolo het ʼn drie gedruk, en Stehan Zeelie het met ʼn strafdoel geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.