‘IRFU betaal spioen Rassie tot sy bitter berou’

Rassie Erasmus – “spioen”. (Foto: Twitter via Munsterrugby)

Die Ierse Rugbyunie (IRFU) kan dit vorentoe bitter berou dat hy ʼn “spioen” – Rassie Erasmus – in sy boesem gefinansier het.

Só skryf die nuuswebwerf Extra.ie, ʼn lid van die Daily Mail-koerantgroep, na aanleiding van die oud-Springbok se afrigtingstermyn van 18 maande by die Ierse provinsie Munster voordat hy as die SA Rugbyunie (Saru) se rugbydirekteur na Suid-Afrika teruggekeer het.

Extra.ie sê in die lig van die mededinging om 2023 se Wêreldbekertoernooi (RWB) aan te bied, en die sterk moontlikheid dat dié twee lande in die kwarteindstryd van 2019 se RWB-toernooi in Japan kan slaags raak, is Suid-Afrika nou Ierland se belangrikste teenstander.

Hy kon insgelyks die twee se gestoei op Wêreldrugby (WR) se ranglys bygevoeg het.

Erasmus se goeie bedoelings met Munster word in twyfel getrek – “sy terugkeer na Suid-Afrika het binne enkele weke ná sy aankoms by Munster reeds ter sprake gekom… deurentydse terugkrabbeling… sy nadruk dat hy bly, terwyl hy heimlik die proses vir sy vertrek aan die gang gesit het … die belofte om tot die einde van die jaar te bly, en dan betyds vir Suid-Afrika se November-toer te vertrek”.

Daar word op gewys dat Erasmus nou die sterk- en swakpunte van Ierse sleutelspelers soos die invloedryke spelskepper Conor Murray en Peter O’Mahoney, wat so waardevol in die lynstane en by die afbreekpunte is, soos die palm van sy hand ken; dat hy eerstehandse kennis van ander Munster-spelers in die Ierse span soos Andrew Conway, Keith Earls, CJ Stander, Dave Kilcoyne, John Ryan en Darren Sweetnam het; en dat sy navorsing vir provinsiale kragmetings hom eweneens ʼn grondige kennis van ander Ierse spelers besorg het.

Hy sal voortaan ʼn kernrol in die beplanning van Ierland se ondergang speel, en daar kan aanvaar word hy sal alles in sy vermoë doen om dit te bewerkstellig, is die slotsom waartoe die webwerf kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rupert Ashford ·

Hulle hoef nie bekommerd te wees nie. 1.) SA het nie meer die strukture om met Ierland te kompeteer nie; 2.) Rassie sal beswaarlik die 2019 toernooi haal in sy huidige pos.

Veritas ·

IRFU hoef hul gladnie te bekommer dat hulle in kwarteindrondte teen die Bastergemsbokke sal speel nie. Om die kwarteind te haal, moet ‘n span darem soms wen ook.

Leon ·

Die Iere is ook so oulik wen die swakste afgerigde bokke twee jaar in n ry en skielik dink hulle dat spioene nodig is om hulle te klop. Ons kort net n afrigter een wat kan wen soos Jake

Eish ·

Rassie maak die fout van sy lewe om terug te keer na die helhool waar politiek elke aspek van menswees deursuur het. Tereg brand hy nou brûe af tot sy nadeel wanneer wanneer die kraantjie hier toegedraai gaan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.