Is die vier terugkerende Bokke almal wedstrydfiks?

Die Springbokspan wat Saterdag op Kingspark in Durban teen Argentinië speel (Foto GB Jordaan)

Suid-Afrika se vernaamste twee uitdagings in Saterdag se eerste Rugbykampioenskap-toets teen Argentinië in Durban sal grootliks bepaal of die Springbokke met ʼn sege in die reeks kan wegspring.

Die een is die wedstrydfiksheid van drie van die vier spelers wat die eerste keer vanjaar toetsrugby speel; die ander is die samespel van die Bokke wat, benewens die Engelse toetse, nie saamgespeel het soos die Poemas toe hulle nog Jaguares in die Superreeks was nie.

Warren Whiteley en Eben Etzebeth mag sukkel om hul stempel af te druk in die verhoogde pas en intensiteit van toetsrugby. Etzebeth het trouens geen wedstrydtyd agter die rug sedert hy op die jaareindtoer beseer is nie, en Whiteley was nie naastenby sy beste in die paar Superwedstryde wat hy gespeel het nie.

Oor Malcolm Marx, wat behoorlik wedstrydfiks ná sy besering,  hoe jy jou nie te bekommer nie; oor Francois Louw wel.

Louw, skitterend op sy beste, is tans in die voorbereidingsfase van Britse seisoen wat eersdaags begin. Maar is hy wedstrydfiks?

Twee van Suid-Afrika se drie losvoorspelers is hierbo genoem, en die vraag is of hulle samespel en ook dié van die vier driekwarte uit die staanspoor goed sal wees.

Die Bokke speel teen ʼn Poemasspan wat, soos al hul spanne voor hulle, voorlangs sterk is. Dié keer het hulle ook twee vleuels met heelwat vaart. Húlle kan met die kort agterlynaangeë van die besoekers en hulle bereidwilligheid om aan te val, groot probleme vir die Bokke veroorsaak.

En dit is juis op die vleuel waar die maklike verbyglip in die eerste twee toetse deur Aphiwe  Dyantyi en Makazole Mapimpi nie weer toegelaat durf word nie.

Dis maar, soos altyd ʼn storie van “asse”. Maar daar is goeie balans by die Bokke, goeie snellers en ʼn stewige pak. Nou vir alles reg bymekaarsit … en die verwagte hoë skoppe op die twee onervare vleuels raakvat.

Spanne ‒

Suid-Afrika

15 Willie le Roux, 14 Makazole Mapimpi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Siya Kolisi (kaptein), 6 Francois Louw, 5 Pieter-Steph du Toit, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Thomas du Toit, 19 Marvin Orie, 20 Marco van Staden, 21 Embrose Papier, 22 Lionel Mapoe, 23 Damian Willemse.

Argentinië

15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matías Moroni, 12 Bautista Ezcurra, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolás Sanchez, 9 Gonzalo Bertanou, 8 Javier Ortego Desio, 7 Marcos Kremer, 6 Pablo Matera, 5 Matías Alemanno, 4 Guido Petti, 3 Juan Figallo, 2 Augustin Creevy (kaptein), 1 Nahuel Tetaz Chaparro. Bank: 16 Diego Fortuny, 17 Santiago Garcia Botta, 18 Santiago Medrano, 19 Tomás Lavanini, 20 Tomás Lezana, 21 Martín Landajo, 22 Santiago González Iglesias, 23 Juan Cruz Mallia.

Skeidsregter:  Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland).
Assistentskeidsregters: Angus Gardner (Australië), Andrew Brace (Ierland).
TV-skeidsregter: Simon McDowell (Ierland).
Afskop: 17:00.
Verwagte weer: bewolk, tussen 12°C en 17°C.
Voorspelling: Suid-Afrika met 10 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carl ·

Wie kyk nog rugby? Wat ons deesdae het, is n gewoonte, nie rugby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.