Is André Esterhuizen goed genoeg?

André Esterhuizen (Foto: André Esterhuizen, Twitter)

Dit behoort een van die Springbokafrigter, Jacques Nienaber, se maklikste keuses te wees wanneer hy oor ’n paar maande sy binnesenters vir vanjaar se toetsreekse te kies: Damian de Allende en André Esterhuizen.

Allende is die man in die saal en ná sy skittervertonings in verlede jaar se reeks teen die Britse en Ierse Leeus, die Rugbykampioenskap en die Jaareindtoer, het hy sy plek vasgemessel.

Geoordeel na Esterhuizen se huidige peil vir London Harlequins in die Engelse Premierliga en die Europese Bekerreeks behoort daar ook geen twyfel oor sy vermoë te bestaan nie.

Hy is vanjaar ’n hele paar keer as Speler van die Wedstryd aangewys, want hy was onstuitbaar in die middelveld, naby aan die doellyn, en sy verdediging gee sy teenstanders die papelellekoors.

Damian de Allende. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Hoekom vaar die jong Engelse losskakel Marcus Smith so puik in die no. 10-trui? Omdat hy langs Esterhuizen gedy. Die stormram wat vir niks stuit nie, wat die druk van sy losskakel afhou, wat hom die nodige selfvertroue gee, hom kalm hou.

Boonop het Esterhuizen, wat in Klerksdorp op skool was en 72 Superrugbywedstryde vir die Sharks gespeel het voordat hy oorsee verhuis het, se balvaardighede, vermoë om die bal na links en regs uit te gee, kanse vir sy buiteagterspelers te skep en met sy linkervoet die bal ver te sool, het hom in ’n baie hegte eenheid laat ontwikkel.

Hy is nog net 27 jaar oud en behoort sy CV van agt toetse in ’n Springboktrui in 2018 en 2019 vanjaar aan te vul.

Esterhuizen is ’n integrale deel van Harlequins se sukses en het dié seisoen reeds 994 minute lank gespeel (gemiddeld van 66 minute per wedstryd) in die Engelse Premierliga en 230 minute (77 minute) in die Europese Bekerreeks.

Verlede jaar se statistieke is nog meer indrukwekkend: hy het ses drieë gedruk, 560 m met die bal gevorder, 148 duikslae uitgevoer en net met 22 daarvan misluk.

Kom ons wees eerlik, Esterhuizen was ʼn rowwe diamant toe hy destyds vir die Sharks gespeel het.

Nou is hy blink en geslyp en kan daar maar mate vir sy nuwe Springbokbaadjie (onthou hy is 1,93 m lank en trap die skaal op 115 kg in) geneem word, want hy is beslis goed genoeg en verdien sy plek in die Springbokspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.