Is Bosch by Junior Bokke oor Allister hom nie wil hê nie?

Curwin Bosch – Bok of Junior Bok? Foto: (Facebook/ Timeline Photos)

Die keuse van Curwin Bosch vir die Junior Springbokspan wat vanaf 31 Mei tot 18 Junie in Tibilisi, Georgië, aan die o.20-Wêreldkampioenskap deelneem, dui daarop dat Allister Coetzee hom waarskynlik nie as ʼn Springboklosskakel-opsie beskou nie.

Dit sal vir die Junior Bokke ʼn slag wees as Bosch kort voor hulle vertrek hoor hy moet wel vir die Springbokoefenkampe en ook die toetsreeks agterbly – met geen waarborg dat hy sal speel nie.

ʼn Plaasvervanger vir die Junior Bokke sal dan op kort kennisgewing nadergetrek moet word. Bosch se onttrekking sal ook die balans van die span versteur, waar hy as losskakel/heelagter gekies is.

Die span sal aangevoer word deur Ernst van Rhyn, een van die 12 WP-spelers in die groep van 28. Dié losvoorspeler was verlede jaar die Bokke se onderkaptein in Manchester.

Die Goue Leeus en Blou Bulle het elk ses spelers in die span en die Vrystaat Cheetahs en OP Kings twee elk.

Die haker van die Blou Bulle, Johan Grobbelaar, is die onderkaptein.

Daar is agt spelers in die span wat verlede jaar in die kampioenskap gespeel het. Benewens Bosch en Van Rhyn was Kwenzo Blose, Carlü Sadie, Zain Davids, Stedman Gans, Manie Libbok en Embrose Papier lede van die span wat vierde in Engeland geplaas is.

Daar is ook ses lede van verlede jaar se SA Skolespan in die groep: Salmaan Moerat, wat die kaptein in die internasionale seshoekige reeks was, Gianni Lombard, Rewan Kruger, Wandisile Simelane en Damian Willemse.

Laasgenoemde het vanjaar vir die Stormers uitgedraf, en Zain David en Stedman Gans het vir die Blitsbokke gespeel.

Daar is ook ʼn aantal spelers met Varsitybeker-ondervinding in die span.

Suid-Afrika speel in sy groep teen Frankryk, Argentinië en die tuisspan, Georgië.

Die groep (alfabeties) –

Juarno Augustus (WP, losvoorspeler), Kwenzo Blose (Vrystaat Cheetahs, stut), Cruwin Bosch Sharks, losskakel/heelagter), David Brits (WP, senter), Jean-Luc Cilliers (Goue Leeus, losskakel), Zain Davids (WP, losvoorspeler), Francois de Villiers (Sharks, skrumskakel), Stedman Gans (Blou Bulle, senter), Johan Grobbelaar (o-kapt., Blou  Bulle, haker), Wikus Groenewald (WP, stut), Daniel Jooste (WP haker), Rewan Kruger (Vrystaat Cheetahs, skrumskakel), Manie Libbok (Blou Bulle, losskakel/heelagter), Gianni Lombard (Goue Leeus, heelagter), Len Massyn (Goue Leeus, losvoorspeler), Leë-Marvin Mazibuko (WP, stut), Salmaan Moerat (WP, slot), Reinhard Nothnagel (Goue Leeus, slot),  Embrose Papier (Blou Bulle, skrumskakel), Yaw Penxe (OP Kings, vleuel), Carlü Sadie (WP, stut), Wadisilie Simelane (Goue Leeus, senter/vleuel), Hendré Stassen (Blou Bulle, stut), Gerhard Steenekamp (Blou Bulle, stut), Ruben van Heerden (Blou Bulle, slot), Damian Willemse (WP, losskakel), Nama Xaba WP, losvoorspeler), Ernst van Rhyn (kaptein, WP, losvoorspeler).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russl ·

Hy is daar omdat dit is waar hy hoort. Die bokke is nie nou sy plek nie, kry meer ondervinding by die Jnr bokke en vat dan die stap op. Hy is al ‘n hele paar keer in die SR gewys dat hy nog heelwat werk nodig het, so moet hom nie te gou druk en hom breek nie. Ja, hy het oomblikke van briljantheid, maar gee hom eers kans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.