Is daar lig in die Springboktonnel?

Lukhanyo Am druk een van Suid-Afrika se ses drieë. (Foto: GB Jordaan)

Daar is twee vrae op almal se lippe ná die eerste ronde  van vanjaar se Rugbykampioenskap.

Is daar ʼn opwaartse kurwe in Springbokrugby na die onlangse reeksoorwinning van 2-1 oor Engeland? Kan die All Blacks in hul opmars ná nog ʼn titel in die Rugbykampioenskap gestuit kan word?

Dit volg nadat die Springbokke die Argentynse Poemas Saterdag met 34-21 in Durban geklop het en die All Blacks die Wallabies met 38-13 in Sydney uitgestof het.

Ja, die Bokke het gedoen wat van hulle verwag is en ja, daar is ʼn (effense) verbetering in die Springbokkamp. Maar nee, dit sit nie in enige span se broek om die All Blacks te ontspoor nie.

Kom ons vergelyk Saterdag se Springbokoorwinning (ses drieë teenoor drie) met verlede jaar se oorwinnings van 37-15 in Port Elizabeth (vier drieë teenoor twee) en 41-23 (vyf drieë teenoor twee) in Salta oor die Poemas.

Op skrif lyk dit nie of daar enige noemenswaardige verbetering was nie, maar ek glo dat die Poemas (onder die nuwe afrigter, Mario Ledesma) ’n veel gedugter eenheid is.

Die Springbokke se pak kan met enige pak saamgesels (let wel, saamgesels, maar ek weet nie of hulle teen die All Blacks of selfs die Wallabies sal oorheers nie).

En dan die groot tameletjie. Wat sal gebeur as Faf de Klerk of Handré Pollard sou seerkry?

So goed as wat De Klerk in ander afdelings gevaar het, kan jy dit bekostig om balle so wild teen die All Blacks uit te slinger?

Maar gooi jy Embrose Papier of Ivan van Zyl aan die diep kant in De Klerk se plek in?

En Pollard? Kies jy Elton Jantjies of Damian Willemse in sy plek?

Nee!

Is die senterpaar van André Esterhuizen en Lukhanyo Am die antwoord?

Wat sal gebeur as Willie le Roux en De Klerk nie beskikbaar is in een van die laaste toetse teen óf die Wallabies óf die All Blacks nie omdat hulle na hul oorsese klubs moet terugkeer?

Die twee vleuels Aphiwe Dyantyi en Makazole Mapimpi is propvol energie en baie goeie afronders, maar hoe gaan hulle in ʼn drukkokersituasie teen die All Blacks (of selfs die Wallabies) vaar?

Kom ons blaai na die All Blacks. Dit was nie ʼn volmaakte vertoning teen die Wallabies nie, maar dit was steeds goed genoeg om die mantel te bly dra.

Hulle het geen probleme met diepte nie en het geen oënskynlike swakpunte nie, hoewel hulle ʼn hele paar hanteerfoute begaan en soms verkeerde besluite geneem het.

♦ Saterdag word die omkeertoetse tussen die Poemas en Springbokke in Mendoza en die All Blacks en Wallabies in Auckland gespeel.

Die Bokke kan baie maklik op ʼn piesangskil gly, want dit is die enigste kans wat die Poemas het om ʼn oorwinning in die reeks te behaal.

In Auckland sal daar net een wenner wees.

Aphiwe Dyantyi beur deur die twee Argentynse spelers, die agsteman Javier Ortego Desio en die vleuel Bautista Delguy. Francois Louw, André Esterhuizen en Siya Kolisi van die Bokke is by om hulp te verleen. (Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willem ·

Ek het net so ‘n klein gedeelte van die Bokke se wedstryd gesien, dieselfde met die All Blacks. Die Argentyne het na die wedstryd gesê die Bokke is die mees fisiese span in wêreld rugby, maar vergelyk dit met die vlugvoetigheid van die AB dan is ons nêrens. Die bokke konsentreer daarop om fisies te wees, dit is hul wapen, maar as jou teenstander jou min geleentheid daartoe gee om met die groot manne te intimideer, wat dan?

Willem ·

O ja en die Oostelike Provinsie het toe tydjie gelede besluit om nie hul naam terug na The Eastern Province Elephants te verander nie, maar The Eastern Province Kings te behou.

Henry ·

Mynsinsiens goeie, realistiese kommentaar/waardering van Rassie se span en hul vermoëns/gebreke. Geen twyfel dat die agterlyn aan die buitekant van die skakelpaar – uitgeslote le Roux – klippe teen die AB’s en selfs die Wallaby’s sal kou.

Wesley ·

Wonder of mense sal raaksien van Pollard se gebreke, alhoewel ek nie sommer enigeiemand bo hom sal kies in die stadium nie. Ons sal maar sien hoe gaan dit op toer, want na gister se vertoning beter hy wakker slaap. Gister was hy indien swak.

bolla ·

Baie swak. Tragies dat ons nie op hierdie stadium ‘n beter losskakel het nie.

LHS ·

Kies heel eerste n skopper en daarna bou jy om hom. Francois Louw het wat gedoen om daardie plek te kry of te behou? Die 2 wonderlike vleuels waaroor so liries geraak word is verseker goeie aanvallende spelers met spoed maar ongelukkig moet rugbyspelers kan verdedig ook. Ek is nie so seker of ons buitesenter maar net die basiese kan doen en of hy werklik n goeie senter is nie. Gaan haal vir Willie of Faf of nog erger beide nou uit die span en kyk maar wat se katastrofe gaan volg. Dat Jantjies nie eers meer in daardie groep is nie terwyl die Leeus met hom op losskakel 3 jaar in n ry tot by die finale kon vorder bewys net een ding en dit is onkunde by Erasmus en kie.

Henk ·

Is daar hoop? Ja. Is daar lig in die tonnel? Nie met Jantjies in die span van hier af vorentoe nie en as Pollard weer so aanjaag is ek bevrees ons het moeilikheid!!! Ons het talentvolle losskakels maar o wee….

LHS ·

Ten minste kan Jantjies pale toe skop, skepskop as dit nodig is, niks verkeerd met sy lynskoppe nie, die Leeus help bring tot waar hulle is, beste S.A. span vir jare nou al. Die Leeus het tot voor die finaal die meeste driee saam met die Crusaders gedruk en dit was beslis nie net voorspeler driee nie. Jantjies het n bitter groot rol gespeel as skakel tussen voor en agter sowel as met besluitneming. Waar is Combrinck, seker die enigste vleuel wat kan driee druk maar goed verdedig ook en as bonus elle lange strafskoppe kan pale toe neem. Die Leeus se stutte skrum die Shark/ springbok voorry stukkend in die super reeks maar nie een is in die bokspan nie. Ek is nou provinsialisties ja, maar met baie goeie rede. Kyle Brink is huidiglik seker die beste flank in S.A. maar daar word vasgeklou aan Louw wat absoluut niks meer beteken nie. Lig in die tonnel, verseker ja, sodra logiese denke, tonnelvisie begin oorneem.

Ek ·

Brink was in die tel om te speel, maar is beseer en moes onttrek.

Bul ·

Dink die lig wat ons sien is dalk die All Black trein wat aangestoom kom…..

corne ·

Ja meskien lig passop net dat die nie die trein se lig is nie.Ons sal moet wag en sien wat ons teen NZ kan lewer dit sal bepaal of daar hoop is al dan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.