Is daar ʼn vergelyking tussen Super- en Curriebekerrugby?

super-rugby-2016-trophyDie groot vraag wat in rugbykringe gevra word, is nie óf nie, maar hoé groot die gaping is wat daar tussen Superrugby en die Curriebekerreeks bestaan.

Dit sal in ʼn mate beantwoord word wanneer die Cheetahs en die Bulls mekaar Saterdag in Bloemfontein in die Superreeks pak nadat hulle in verlede jaar se Curriebeker-eindstryd teen mekaar gespeel het.

Die Vrystaatse Cheetahs was toe met 36-16 baas nadat hulle in 10 Curriebekerwedstryde onoorwonne was.

Ja, dit was  sonder die Springbokke, het die meeste van ons gesê.

Was die reeks werklik só afgewater? Is die vaardigheidsvlakke van die jonger en onervare spelers soveel swakker en bly die ondeurpriembare verdedigingspatrone in die  kleedkamer agter?

Gewoonlik word daar in eindstryde nie gewaag nie en foute word tot ʼn minimum beperk. Ja, dis hoe daar voorheen gespeel is, skop, storm … nog hoër skop en storm en dan pale toe korrel.

Maar die Cheetahs het nié die bloudruk gevolg nie en van die afskop af die bal lug gegee en die Bulls van hul voete af gehardloop.

Daar is net 16 spelers (agt van elke span) wat  verlede jaar in die twee opdrafspanne was, met ʼn hele paar op die plaasvervangersbanke.  Maar dit sal nie veel van ’n verskil maak nie, want die Cheetahs sal weer hardlooprugby speel en die Bulls sal volg.

♦  Van al die plaaslike spanne het die Stormers verlede week op Nuweland teen die Bulls die meeste beïndruk toe hulle vyf drieë gedruk het. Verlede seisoen was dit net Robbie Fleck-praatjies voor en ná die tyd op mediakonferensies, nou lyk dit of die Stormers ook ʼn nuwe speelstyl omarm het.

Hulle behoort, weer op Nuweland, teen die Jaguares voort bou en die grondslag vir ʼn suksesvolle seisoen te lê, hoewel daar nog ʼn hele paar steil bulte in Nieu-Seeland wag wat nog uitgeklim moet word.

Maar hou maar dop hoeveel toeskouers daar sal wees; daar is niks lekkerder as ʼn wenspan nie

♦  Die Lions kom op Ellispark teen die omgesukkelde Waratahs te staan. Die besoekers dra dié wedstryd aan hul ontslape en gewese spanmaat Dan Vickerman op en hulle sal soos snare styf gespan wees.  Die ‘Tahs, soos die meeste Australiese spanne, is nie een van die mees avontuurlustige en ondernemende spanne nie en hoewel die Lions nie van hul patroon sal afwyk nie, kan dit  oorborrel in ʼn armdrukstryd.

♦  Die Sharks speel Saterdagoggend in Canberra teen die Brumbies. So vier, vyf jaar gelede sou die Brumbies die groot gunsteling gewees het, maar die Sharks kan dalk verras.

♦  En die Kings teen Sunwolves in Singapoer? Nou ja, tyd om die kole te gaan aansteek …

Saterdag se bepalings –

06:15     Hurricanes vs Rebels
08:35     Highlanders vs Crusaders
10:45     Brumbies vs Sharks
12:55     Sunwolves vs Southern Kings
15:05     Lions vs Waratahs
17:15     Stormers vs Jaguares
19:30     Cheetahs vs Bulls

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack Russl ·

Amper reg. By die bulle is daar 8 spelers van verlede jaar se CC finaal in die naweek se beginspan, by die cheetahs 9.

As ‘n mens verder kyk dan het die cheetahs ‘n meer gevestigde span. 16 van die cheethas het verlede jaar in die finaal gespeel waarvan 13 van more se beginspan in die 23man span was van die finaal. Die bulle het 14 spelers van die finaal oor waarvan 10 more in die beginspan is uit die finaal se 23. By die cheetahs skuif 3 van die finaal se beginspan af bank toe en by die bulle 2. Daar is ook 2 spelers van die bulle wat op die bank is vir die finaal en die naweek, cheetahs niks.

Dis moeilik om op verlede week se wedstryde te gaan. Bulls-Stormers 9 drie, Lions-Cheethas 4 drie.

Ek is oortuig die Stormers sal voortbou op verlede week.

Cheethas moet versigtig wees vir die Bulle, hulle sal wil regmaak.

Lions was verlede week glad nie op standaard nie, hulle behoort die week ‘n goeie oorwinning te kry.

As die Sharks se hantering is soos verlede week, dink ek nie hulle gaan iemand verras nie.

Kings, dis die wedstryd wat die Sunwolves gaan teiken vir punte. Maar soos jy se, tyd om die kole te gaan aansteek

Frans C ·

Curriebekerspanne is provinsiale spanne-Superrugby spanne is streekspanne.

Die probleem is dat wanneer streekspanne spelers van kleiner unies in superrugbyspanne
opneem is daar ‘n neiging vir spelers van kleiner unies om aan te sluit by die unie wat die Superrugbyspan beheer.Kleiner unies sukkel weens finansiële beperkings om spelers te behou. HUlle kan dus nie die spelerdiepte opbou van die groter unies nie.

Superrugby is die naaste aan internasionale rugby tussen rugbyspelende lande.

Barend j ·

die currie beker eindstryd was nie tussen die buls en cheetas nie maar wel tussen die leeud en cheetas

Sune van Heerden ·

Dagsê Barend

Ons kan bevestig dit was wel tussen die Cheetahs en die Blou Bulle. Die Cheetahs het die Bulle 36-16 geklop.
Lees gerus die wedstrydverslag hier.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Andre ·

Ek dink die Currybeker kompetisie moet deel van die Superrugby kompetisie gemaak word. Dit gaan beteken krag teen krag. En ook meer geld om die beste spelers te behou om in ons land te speel. Daar is deesdae ook net te veel rugby per jaar en die top spelers se lywe kan dit nie hou nie. Deesdae is die Currybeker baie afgewater. Die formaat van die ou Vodacom beker kan behou word om opkomende rugbyspelers n plek te gee. Dit is my mening.

Johannes van Staden ·

Ek se verander die spingbok naam dis n verleentheid en die trots is weg …maak wat jy wil gee nie om nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.