Is daar nog hoop om nasionale klubspan te kies?

Danie Roux – aanspraakmaker? (Foto: Gallo Images/SA Rugby)

Die SA Rugbyunie (Saru) se opwindende internasionale oopklubreeks gryp weer eens die rugbypubliek aan, lok duisende toeskouers na rugbyvelde landwyd, en die kwessie van ʼn span saamgestel uit die reeks se beste spelers duik weer op.

Daar word die afgelope klompie jare gereeld uit klubgeledere gepleit dat ʼn span uit die topspelers van die reeks teen ʼn soortgelyke span van die Varsitybekerreeks moet speel.

Saru het tot dusver nie geld gehad om dit te verwesenlik nie, en waar die jaarlikse amateurreeks vanjaar juis om dié rede in die slag gebly het, is dit waarskynlik nie die beste tyd om die gedagte te wil bevorder nie.

Só ʼn span se potensiële bydrae tot rugbyontwikkeling word dalk heeltemal onderskat.

In die amateurdae het al die groot rugbyhelde in gemeenskappe gestaan – ʼn onderwyser hier, ʼn mynwerker daar … – en dit het die jeug van daardie gemeenskappe aangespoor om rugby te speel en daarin uit te blink.

Daardie helde is nou in hul beroepskokonne toegespin en is vir die gemeenskap verlore.

Moet ons nie opnuut rugbyhelde in gemeenskappe vind om die jeug aan te vuur nie? Iemand in hul midde wat op nasionale vlak uitblink en vir só ʼn span speel, kan mos in dié opsig deug.

Is dit nie genoeg rede om van die geld wat vir spelersontwikkeling gewaarmerk word, na só ʼn span te kanaliseer nie?

Sweet

Om die waarheid te sê, is só ʼn projek nie ontwikkeling op sigself nie?

Feit is dat meestal amateurspelers week ná week met inspanning en sweet die peil van klubrugby ophef tot ʼn vlak wat ʼn stuk of vyf jaar gelede ongekend was, ná die aanvanklike insinking wat met die beroepsbedeling gepaardgegaan het.

Tussen hulle is ʼn klompie uitmuntende spelers wat keer op keer uitstyg, en om op hierdie wyse erkenning aan hulle te gee, sal niks minder as reg wees nie.

Tans is daar slegs vir die beste voor- en agterspeler die wortel van ʼn uitruilooreenkoms met die Skotse klub Selkirk. Dis die geleentheid van ʼn leeftyd vir hulle, maar dit bly tot die beste twee beperk.

Goue Beker of SA?

Met die insluiting van Namibië en Zimbabwe se klubkampioene in die GB-reeks ontstaan die kwessie natuurlik of só ʼn span ʼn Goue Beker-vyftiental (wat alle deelnemende klubs insluit) of ʼn SA Oopklub-vyftiental (beperk tot SA klubs) moet wees.

Wie sou vanjaar só ʼn span kan haal?

As ʼn mens nie die spelers in aksie sien nie, kan jy nie werklik sê nie, maar daar is tog diegene wat die oog in verslae trek.

Leon du Plessis van Rustenburg Impala, wat die afgelope twee jaar die speler van die reeks was, is na berig word steeds ʼn yster.

Toetsspelers

Old Georgians het ʼn stuk of agt Zimbabwiese toetsspelers in sy geledere, Western Suburbs het vyf van Namibië.

College Rovers het, benewens ʼn Zimbabwiese toetsslot, drie spelers wat vanjaar vir die Natalse Sharks gespeel het.

Voorste puntemakers soos Lenience Tambwera (Old Georgians), Jannie van der Merwe (Sasol Secunda) en Deon Taljaard (Tygerberg) kan gewis in aanmerking kom.

Dan is daar topdriedrukkers soos Danie Roux (Valsbaai), Bushy Erasmus (Quins-Bobbies-rugby), Itumeleng Mpete (Raiders), Willa Martin (Sasol) en Gino Wilson (Suburbs).

Dis oppervlakkig beskou. Daar is mense wat ʼn beter mening kan vel.

Teen toplande

As die uitdaging van die Varsitybekerspan nie deug nie … en as die (groter bedrag) geld gevind kan word, wat van ʼn toer om teen vyftientalle van lande soos Namibië, Zimbabwe, Kenia en Uganda te speel?

Is die bevordering van rugby in dié streek nie belangrik genoeg vir Wêreldrugby om ʼn geldelike bydrae tot die toerkoste te maak nie?

Of dalk kan die Goue Beker se keurbende selfs kragte meet met van die toplande wat ʼn gevestigde kultuur van nasionale klubvyftientalle het.

Skotland en Ierland se spanne speel al langer as tien jaar in die reeks om die Dalriada-beker teen mekaar, en dis ʼn gesogte eer om vir dié spanne te speel.

Gesien die Goue Beker se bestaande Skotse bande en SA se proefnemings met deelname aan Europese reekse, is dit seker nie te vergesog om die Dalriada-reeks ook op die wenslys te plaas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.