Is daar nog hoop vir Argentynse rugby?

argentina-logo-newHoekom bly die Poemas die melkkoei van die Rugbykampioenskap? Gaan hul toetrede tot die Super18 dinge verander?

Dié span het in 2007 se Wêreldbeker `n goue jaar beleef deur Frankryk in die stryd om die bronsmedalje 34-10 te verslaan, maar kon sedert 2012 in die Rugbykampioenskap nog net een wedstryd (teen die Wallabies) wen en een (teen die Springbokke) gelykop speel.

Die afgelope twee weke het die Poemas weer yslike neerlae teen die All Blacks en die Wallabies gely, en sedert 2007 kon hulle net 39% van hul wedstryde teen die toplande wen. `n Skamele 18 seges en 45 nederlae maak nie goeie leesstof nie.

Augustin Pichot, hul gewese skrumskakel, sê die land se rugby sal eers vooruitgaan as daar `n skakel tussen die land se klubs en die nasionale span is. “Ons het spelers nodig wat week na week teen die bestes van die Suidelike Halfrond kan speel, nie net ses wedstryde per jaar soos ons nasionale span nie. Totdat dit gebeur, sal ons spelers deur aanbiedinge uit ander lande gemelk word.”

Marcelo Loffreda, wat agt jaar lank die hoofafrigter was, het die Poemas tot die historiese prestasie in 2007 gebrei en hy het die model van Argentynse rugby geword. Hy het met die Buenos Aires Herald oor die land se dilemma gesels.

“Die UAR het `n goeie besluit geneem deur die 16 beste klubs aan die Campeonato Nacional de Clubes te laat deelneem.  Ek stem saam met professionalisme in die nasionale spanne, maar ek dink nie Argentynse rugby kan professioneel raak nie, in elk geval nie nou nie.

“Die amateur gees in ons rugby is iets wat jy nie elders sien nie en ander lande beny ons daardie gees. Daar is ook geen manier waarop ons salarisse en bonusse kan betaal en kontrakte met spelers kan sluit nie – ons het net eenvoudig nie die geldmiddele nie.

Loffreda dink die nuwe spelers in die span het `n positiewe bydrae gemaak en hy en die span is gemaklik met Daniel Hourcade se afrigting, hoewel hy graag wil sien dat die span meer aanvallend speel. Hy dink die span kan met gemak tot die tweede ronde van die WB vorder. (Die Poemas is saam met Nieu-Seeland, Tonga, Namibië en Georgië ingedeel.)

Hy is terselfdertyd jammer dat Argentinië nie die ervare spelers soos Patricio Albacete (Toulouse se kaptein) kon behou nie.

Natuurlik gaan dit hier ook oor geld, maar met Sanzar-geld vir die span wat die land in 2016 in die Super18 gaan verteenwoordig, kan dit dalk die nasionale span ook sterker maak.

♦ Japan, wat ook `n Superfranchise kry, het verlede naweek ook `n yslike drag slae teen Amerika se Eagles gely. Die Springbokke speel aanstaande naweek in Durban teen die Poemas en die week daarop teen hulle in Buenos Aires.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.