Is die All Blacks dalk te grootkop met die klomp veranderinge?

Dit gaan onder Mario Ledesma vanjaar veel beter op die veld met albei Argentinië se spanne in die Superrugby- én die Rugbykampioenskap-reeks, maar of dit genoeg is om die “nuwe” All Blacks te stuit, sal Saterdag gesien moet word.

Ja, die Poemas probeer nou veel meer “volkome” rugby speel om hul natuurlike flair en verkose hardloopbenadering aan te vul. Hulle wil dit Saterdag uitstal teen ʼn All Blacks-span wat agt veranderinge aangebring het en van hul heel beste spelers nie eers in die wedstryd-23-tal het nie.

Grootkop van die All Blacks? Of “rus” hulle werklik hul spelers en gebruik hulle die wedstryd teen die Poemas as uitdunning met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi? Die Argentyne was immers in 2007 die derde beste en in 2015 die vierde beste span by die Wêreldbeker-toernooi – gewis nie ʼn span om lig aan te kyk nie.

Maar aan die ander kant is slegs vier wenne in 35 wedstryde die Poemas se rekord in die Rugbykampioenskap, en dit sal die naweek vier oorwinnings bly. Geen oorwinnings uit 26 in alle toetse teen die All Blacks sal ná Saterdag op nul uit 27 staan, met een gelykop-uitslag (21-elk) in slegs hul tweede ontmoeting 33 jaar gelede (in 1985).

Dit, ongelukkig vir die sport, is hoe yslik die Nieu-Seelandse heerskappy op die rugbyveld is.

Ledesma het meer struktuur by sy span(ne) probeer inoefen en probeer dit met hul hardlooprugby versoen. Hy het in ʼn mate daarin geslaag en daarmee die eerste keer die Jaguares in Superrugby se uitspeelrondes gekry. Ledesma het as nasionale afrigter ook goed weggespring en het een uit twee toetse teen die Springbokke gewen.

Die skrum, eens hul sterkpunt, glo Ledesma, is by die Argentyne steeds nie naastenby wat dit moet wees nie. Hy verwag nie sy span sal werklik deurbreek voordat hierdie fondament van Argentynse rugby nie herstel is nie.

Selfs in die oorwinning teen Suid-Afrika was dit nie oortuigend nie. Dit sal Saterdag ook nie goed genoeg wees om die “nuwe” All Blacks te ontwrig wat met hul verskeie nuwe kombinasies die Argentyne die stryd aansê nie.

Argentinië sal goeie rekenskap van hulself gee, maar soos maar altyd sal die All Blacks in die laaste kwart of so wegtrek. Hulle behoort met sowat 15 punte of meer te wen, selfs al skrum en keer die Poemas goed en selfs al kliek hul agterlyn met sterre soos Emiliano Boffelli, Bautista Delguy, Jeronimo de la Fuente en Nicolas Sanchez.

Spanne ‒

Nieu-Seeland
15 Ben Smith, 14 Nehe Milner-Skudder, 13 Jack Goodhue, 12 Ngani Laumape, 11 Waisake Naholo, 10 Richie Mo’unga, 9 TJ Perenara, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Ardie Savea, 6 Shannon Frizell, 5 Scott Barrett, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Tim Perry, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Samuel Whitelock, 20 Luke Whitelock, 21 Te Toiroa Tahuriorangi, 22 Damian McKenzie, 23 Anton Lienert-Brown.

Argentinië
15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Moroni, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Ramiro Moyano, 10 Nicolas Sanchez, 9 Martin Landajo, 8 Javier Ortega Desio, 7 Marcos Kremer, 6 Tomas Lezana, 5 Tomas Lavanini, 4 Guido Petti, 3 Chaparro Tetaz, 2 Agustin Creevy (kaptein), 1 Garcia Botta. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Juan Pablo Zeiss, 18 Gaston Cortez, 19 Matias Alemanno, 20 Pablo Matera, 21 Tomas Cubelli, 22 Bautista Ezcurra, 23 Juan Cruz Mallia.

Afskop: 09:35 (SA tyd)
Skeidsregter: Pascal Gaüzère (Frankryk).
Assistent-skeidsregters: Nigel Owens (Wallis), Nic Berry (Australië).
TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wesley ·

Hoe is hierdie n verswakte span van die ABs? Sjoe maar hul het diepte jong. Haat om dit te erken, maar by ver die beste ter wereld…

Johan ·

Die All Blacks speel met trots. Noe vir grls nie. Love you All Blacks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.